NewsNews

Steeds sku vir die Covid-19-entstof?

Steeds sku vir die Covid-19-entstof?

Die Herald het ‘n navorser in biochemie en adjunk-dekaan van navorsing en innovasie van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe aan die Noordwes-Universiteit, prof. Francois van der Westhuizen, genader om vrae oor die Covid-19-entstof te beantwoord.

Die nuwe Covid-19-variant, Omicron, is onlangs deur Suid-Afrikaanse navorsers ontdek en het behoorlik ‘n opskudding in die buiteland veroorsaak met lande wat weer van voor af hul grense vir Suid-Afrikaners gesluit het.

Die lys van lande wat Suid-Afrikaanse reisigers verbied, word al hoe langer en sluit Engeland, die VSA, Europese Unie, Seychelle, Japan, Turkye, Singapoer, Israel, Indië, Duitsland, Nederland, Kanada, Australië, Sri Lanka, Oman, Thailand, Brasilië, Guatemala, die Arabiese Emirate, Filippyne, Rwanda, Angola en Mauritius in.

Die Herald het ‘n navorser in biochemie en adjunk-dekaan van navorsing en innovasie van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe aan die Noordwes-Universiteit, prof. Francois van der Westhuizen, genader om vrae oor die Covid-19-entstof te beantwoord.

Prof. Francois van der Westhuizen, biochemie navorser en adjunk-dekaan van navorsing en innovasie van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe aan die Noordwes-Universiteit
  1. Wat is volgens jou mening die grootste oorsaak waarom mense nie die Covid-19-enstof wil ontvang nie?
    Ek vermoed die grootste rede is wantroue. Wantroue in die entstowwe self, of in die mediese wetenskap en -industrie, of selfs in die gesagstrukture wat die proses dryf. Hiermee saam is mense se bronne van inligting nie dieselfde nie, met sosiale media wat ‘n groot rol speel. Verskeie mense is ook nie gewillig om objektief en deeglik ondersoek in te stel nie.
  1. Baie mense se rede om nie ingeënt te word nie, is dat hulle nie die entstof vertrou nie. Hulle is skepties omdat dit in so ‘n kort tyd ontwikkel is, terwyl dit gewoonlik voorheen jare geneem het om entstowwe te ontwikkel. Hoe kan jy mense oortuig dat dit veilig is?
    Eerstens moet dit gestel word dat daar nooit waarborge gegee kan word dat enige geregistreerde terapeutiese middel 100% veilig en effektief is nie. Wat die kwessie oor die vinnige ontwikkeling van entstowwe betref, is dit inderdaad so dat die proses van entstofontwikkeling gewoonlik ‘n hele aantal jare neem, juis omdat die proses soveel stappe vereis waar die veiligheid en effektiwiteit daarvan deeglik getoets word. Vir die Covid-19-entstowwe – waar ‘n spoedeisende ontwikkeling en toetsing in wêreldwye belang was – is daar spesifieke redes waarom hierdie prosesse aansienlik versnel kon word. Eerstens moet dit genoem word dat die ontwerp van moderne entstowwe, voor toetsing, reeds baie effektief gedoen kan word en gebaseer is op dekades se kennis en tegnologie. Tweedens was die prioriteite in die mediese wetenskappe, regulatoriese agentskappe en befondsing daarvoor aangepas, met baie gewillige deelnemers op alle vlakke van die proses. Derdens het voorbereiding vir grootskaalse kommersiële vervaardiging, met groot finansiële ondersteuning, reeds begin terwyl kliniese toetsfases nog aan die gang was. Geeneen van die onderskeie veiligheidstappe, wat deur onafhanklike kundiges geëvalueer moet word, is uitgelaat in hierdie versnelde proses nie. Dit wil voorkom of die meeste mense wat skepties is, nie maklik oortuig kan word om hulle opinie te heroorweeg nie. Dit is jammer as mense entstowwe as ‘n nuutjie en verdag ervaar, veral as in ag neem word dat die immuunrespons so ‘n natuurlike en essensiële proses is, veral om teen virusse te beskerm. Die gebruik van entstowwe om die immuunrespons te aktiveer is ‘n eeu-oue manier wat so verbeter is dat daar byna jaarliks nuwe entstowwe (bv. vir griep-variante) beskikbaar word.
  1. Sommige entstowwe vereis dat mense twee keer ingeënt moet word. Baie mense wat hulle eerste vaksines ontvang het, het nog nie vir die tweede een gegaan nie. Waarom is dit belangrik om die opvolg vaksine te ontvang? Indien jy dit nie binne die aanbevole tydperk gekry het nie, kan jy dit later nog ontvang?
    Die mens se immuunrespons is baie meer effektief na ‘n tweede en enige verdere blootstelling aan die liggaamsvreemde substans (bv. virus) waarteen dit moet beskerm. Dit versterk die “immuungeheue” en reaksiespoed wanneer mens weer aan dieselfde substans blootgestel word. Vir elk van die onderskeie entstowwe op die mark, is vasgestel watter proses van inenting die beste kans gee om veilig en effektief te wees. Dit is dus krities om dié proses te volg. Dit is ook belangrik om te noem dat dit nooit te laat is om die tweede dosering te kry nie.
  1. ‘n Nuwe variant van ‘n virus ontstaan wanneer virusse muteer. Kan inentings help dat virusse nie muteer nie? Of anders gestel, is die kans groter dat virusse muteer as mense nie vaksineer nie en hoekom is dit so?
    Die kort antwoord is ja. Virusse soos SARS-CoV-2 muteer natuurlik as gevolg van foute wat hulle repliseringsmeganisme maak. Ons is gelukkig dat SARS-CoV-2 heelwat stadiger muteer as die griep-virus. Die meeste van hierdie mutasies het geen effek nie, maar oor tyd ontstaan daar mutasies wat wel ‘n effek het. Die gevolg kan wees dat die virus meer effektief raak om sy gasheer se immuunsisteem te ontglip en siekte te veroorsaak, of makliker na ‘n nuwe gasheer oorgedra te word (meer infektief te word). So ontstaan nuwe variante oor tyd en versprei dit verder in die bevolking. Die tyd wat die virus in ‘n persoon of in die populasie gegun word om mutasies te ondergaan, is dus krities. Dit is dus uiters belangrik om so vinnig as moontlik van die virus ontslae te raak. Wanneer jy ingeënt is, veg jou liggaam die virus vinniger af en kry dit minder kans om te muteer.
  1. Is dit nog nodig om in te ent met die nuwe Omicron-variant in sirkulasie?
    Dit is nog nie duidelik wat die effek van die nuwe variant is op die effektiwiteit van die entstowwe wat tans in SA gebruik word nie. Kenners meen dat daar wel ‘n mate van beskerming sal wees en met die Delta-variant ook nog in sirkulasie, is die huidige entstowwe nog steeds die beste opsie vir beskerming. Dieselfde bekommernis is vroeër uitgespreek vir die Delta-variant, wat gelukkig vir die meeste entstowwe slegs ‘n matige verlaging in effektiwiteit in vergelyking met die Alfa-variant getoon het.  Verder het eerste data in die afgelope dae aangetoon dat met die Omicron variant die kanse om ‘n herinfeksie te kry, twee keer so groot is as met ander variante. Dit wil ook voorkom dat meer jonger mense en kinders daarmee geïnfekteer word, maar dit kan wees as gevolg van hulle lae inentingskoers.
  1. Wat is die aanbevole persentasie van die bevolking wat ingeënt moet word om die virus suksesvol af te weer?
    Aan die begin van die pandemie het epidemioloë, asook die Wêreldgesondheidsorganisasie, voorgestel dat 60 – 70% van ‘n land se bevolking weerstand teen die virus moet hê om deur middel van kudde-immuniteit die virusverspreiding te voorkom. Jy kry weerstand op ‘n veiliger manier deur inenting of die onveilige manier deur aan die virus self blootgestel te word. Hierdie skatting het intussen verhoog tot ongeveer 85%, op grond van nuwe inligting en as gevolg van die nuwe variante van die virus wat ontstaan het.
  1. Een van die redes waarom mense nie wil inent nie is omdat hulle dalk onderliggende siektesimptome het wat dit vir hulle gesondheid gevaarlik maak om in te ent. Wanneer is dit dan gevaarlik om inentings te ontvang?
    Dit is belangrik dat mense wat twyfel of die inenting moontlik onderliggende simptome kan vererger, of enige ander gevaar vir hulle inhou, hul huisdokter gaan sien om professionele mediese advies te kry.

 

 

Related Articles

Back to top button