NewsNews

Solidariteit loods fluitjieblaasportaal om Eskom-korrupsie te ontbloot

Solidariteit sal as waghond optree

 

Solidariteit het Woensdag, 1 Desember tydens ʼn mediakonferensie ʼn nuwe beskermde fluitjieblaasportaal bekendgestel met die doel om werknemers te bemagtig om korrupsie by Eskom bloot te lê. Volgens Solidariteit is die meeste werknemers by Eskom goeie mense wat hard werk, maar ʼn kultuur van plundering en korrupsie maak dit vir hulle onmoontlik om hulle werk doeltreffend te doen. 

“Korrupsie in Eskom is geïnstitusionaliseer. Interne korrupsienetwerke steel ons gewone belastingbetalers se krag. Daar is ʼn bendenetwerk in Eskom wat hulself verryk terwyl gewone Suid-Afrikaners in die donker sit,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Hy het voorts gesê hulle is bewus van werknemers wat van hierdie wanpraktyke weet.

“Ons weet ook dat daar goeie mense is wat nie kan uitpraat nie, juis weens die geïnstitusionaliseerde aard van die korrupsie. Solidariteit het besluit om ʼn veilige platform te skep vir dé mense om uit te praat. “Ons sal hulle lei en beskerm. Ons, die meerderheid van Eskom-werknemers en Suid-Afrikaners moet opstaan teen die minderheid wat plunder. Ons is moeg vir die plunderaars en moet hulle terugdruk.” Hoewel hierdie platform geloods word met ʼn spesifieke fokus op Eskom, is dit egter ook ʼn platform waar enige iemand by enige staatsonderneming en selfs privaat ondernemings die fluitjie teen korrupsie kan blaas. 

“Die platform gaan ʼn groot rolspeler word in goeie mense se stryd teen plunderaars. Ons wil die korrupsiesuurstofpype toemaak. Ons vertrou dat ons die kultuur sal kan verander,” verduidelik Hermann. Volgens hom sal  sal Solidariteit op ‘n gereelde basis verslae oor tendense van korrupsie wat aangemeld is, aan die publiek bekend maak sonder om fluitjieblasers bloot te stel.  “Plunderaars moet hoor: julle is nie meer beskerm nie. Goeie mense gaan die fluitjie blaas,” sê Hermann. 

Related Articles

Back to top button