News

Sentrale-liefde blom steeds ná 60 jaar

Sentrale-liefde blom steeds ná 60 jaar

Hy het by die sentrale in Virginia gewerk. Sy by die sentrale in Kimberley. En so oor die foon het die liefde 60 jaar gelede begin blom vir Sybrand en Magdaleen van der Merwe.

Hulle is destyds net 10 dae voor sy 20ste verjaardag in Virginia getroud.

Verlede week, Donderdag, 25 November, het hulle die voorreg gehad om 60 jaar se saamwees te kon vier.

Die dubbele vreugde van hul huweliksherdenking, en Sybrand se 80ste verjaardag, is by hul dogter, Martie Brummer, in Meyerton gevier.

Naas Martie, het die egpaar ook twee seuns, 6 kleinkinders en 6 agterkleinkinders. Sybrand en Magdaleen wat deesdae in Vredefort bly, vertel dat hulle hul na die troue in Virginia gevestig het.

Hy het later by die poskantoor bedank om by die myn te gaan werk, waarna hy vir 30 jaar by die spoorweë gewerk het. In sy jare by die spoorweë was hy vanaf 1971 stasiemeester van onder meer die Maizefield, Morgenson, Kendal en Delmas-stasies.

Ook hier was Magdaleen sy regterhand as klerk vir die stasiemeester, nadat ook sy haar werk by die poskantoor verruil het vir ‘n pos by die spoorweë.

Een van die groot hoogtepunte van die jare as stasiemeester was toe Sybrand twee jaar voor sy aftrede as stasiemeester van die Delmas-stasie, die nasionale toekenning ontvang het vir die netjieste stasietuin in die land.

Nadat die egpaar die tuig neergelê het vir ‘n welverdiende rus op hul oudag, het hulle aanvanklik Parys toe getrek waar hulle van 1992 tot 2002 gevestig was. Daarna het hulle Vredefort hul tuiste gemaak.

Vir stilsit sien nie een van die twee nog kans nie, en doen self hul eie huis- en tuinwerk. Magdaleen bak ook graag en is hul dankbaar vir goeie gesondheid.

 

Vra jy hulle wat die gom vir 60 jaar se saamwees is, lag Sybrand al te lekker en sê – skryf maar dat ons die gewere weggesteek het, maar gaan dan voort op ‘n ernstiger noot as hy sê dat dit net genade van die Here is.  

 

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button