News

Meer voltydse raadslede, nie minder nie

Meer voltydse raadslede, nie minder nie

Ngwathe se nuwe raad het verlede Dinsdag op omstrede wyse hul raadslede wat voltyds dien met twee ekstra verhoog, waarvan een raadslid nou as ‘n sogenaamde sweep vir die raad sal dien. Een van sy take sal wees om te help stemme tel wanneer raadslede oor iets stem, wat nie gereeld gebeur nie. In ‘n vurige debat het DA-raadslede aangevoer die ekstra voltydse raadslede is ‘‘heeltemal onnodig” en sal byna ‘n driekwartmiljoen rand ekstra per jaar kos.

Hulle het daarop gewys dat die DA-lede reeds weke lank poog om die aantal voltydse raadslede met sewe te probeer verminder, as deel van kostebesparing. Hulle sê met hul voorgestelde wysigings kan Ngwathe onmiddellik R5 miljoen per jaar bespaar.

Die debat is kortgeknip op ANC- versoek en die voorstel is deurgedruk, met teenstemme van NgwatheRA, die DA en die VF+ se raadslede. Intussen het Mxolisi Dukwana, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake in die Vrystaatse wetgewer, planne aangekondig dat sewe Vrystaatse munisipale rade, onder wie ook Ngwathe, moontlik van ‘n burgemeesterstelsel na ‘n kollektiewe stelsel verander sal word.

Dit is bevestig deur Leona Kleynhans, die DA se provinsiale segspersoon oor munisipaliteite en lid van die provinsiale wetgewer.

Die ander rade wat saam met Ngwathe gelys is, sluit in Dihlabeng, Maluti-a-Phufong, Mathabeng, Metsimaholo, Moqhaka en Matjahbeng. Die sewe munisipaliteite is reeds in Mei vanjaar deur die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, geïdentifiseer, en het die rade en gemeenskappe nou tot 15 Desember tyd om hierop te reageer, is gesê. Dit sal verreikende implikasies vir dié rade hê, sou dit deurgevoer word, omdat verkose burgemeesterskomitees by implikasie dan ontbind moet word.

Dukwana het gesê dat dit ‘n proses is wat moontlik teen die volgende boekjaar in werking gestel kan word, het Netwerk24 berig. ‘n Kollektiewe stelsel behels dat ‘n burgemeesterskomitee saamgestel word uit deeltydse raadslede van die verskillende politieke partye in die raad.

Dit word gebaseer op die hoeveelheid steun wat elke party in die onlangse munisipale verkiesings gekry het, in plaas van waar uitvoerende burgemeesters soos ook in Ngwathe se geval, ’n burgemeesterskomitee saamstel uit voltydse lede van sy/haar eie party.

’n Kollektiewe stelsel bied daarom groot besparings waarvoor voor die verkiesing al geveg is sê Kleynhans.  

   

Related Articles

Back to top button