NewsNews

GPF kyk terug op ’n jaar se harde werk om polisie se hand te sterk

GPF kyk terug op ’n jaar se harde werk om polisie se hand te sterk

Die Parys Gemeenskap Polisiëring Forum (GPF), kon verlede week tydens sy jaarvergadering terugvoer gee op ‘n jaar se harde werk en toewyding om die polisie se hand te sterk in die bekamping van misdaad. Dié gemotiveerde en positiewe komiteelede wat ‘n gedugte span vorm, het tot dusver vanjaar ten spyte van die uitdagings van die Covid-19 pandemie nie minder as 57 bewusmakingsveldtogte in en om Parys geloods.

 

Met die veldtogte is uitgereik na die gemeenskap om spesifiek inligting en wenke te gee oor misdaadtendense wat dikwels hier gesien word. Dit sluit in bankkaartbedrog en diefstal, huisbrake en diefstal uit motorvoertuie wat steeds ‘n groot bron van kommer vir die polisie is, aanranding, voorvalle van huishoudelike geweld, veral ook teenoor bejaardes, vroue en kinders, en bedrogskemas op sosiale media platforms. Veral nou oor die feestyd is dit belangrik dat mense sal ag slaan op die wenke.

Naas die bewusmakingsveldtogte is ook deelgeneem aan die sogenaamde blou- en witlig patrollies en oorgrens operasies. Hiervan was daar oor die afgelope jaar nagenoeg 15 optredes wat saam met die gebruik van sekuriteitskameras veral in die landelike gemeenskappe help om misdaad te bekamp.

Die toegewyde bestuurspan van Parys GPF is Theo Dunn, Emile Schutte, Wynand Nel (ondervoorsitter), Dorette Nel (sekretaresse), Carl von Maltitz, Anne-marie du Toit (voorsitter), Jenny Kruger, a.o Jan le Roux (skakelbeampte), Selma Kok en Ivan Kukard (sektor 1). Charl Vosloo en lt-kol Jacques de Vos was afwesig met die neem van die foto.

  Onthou dat daar van 25 November tot 10 Desember gefokus word op 16 Dae van Aktivisme teen geweld teen vroue en kinders.

Elkeen van ons het ‘n verantwoordelikheid om erns te maak hiermee en dié euwel in ons samelewing stop te sit. Suid-Afrika het van die mees progressiewe menseregtewetgewing ter wêreld en van die beste geslagsbeskermingsmeganismes in die wêreld. Tog is geweldsmisdaad teen vroue en kinders in Suid-Afrika ‘n wesenlike probleem. Geslagsgeweld eis elke drie uur die lewe van ‘n vrou. Agt vroue verloor hul lewens per dag weens misdaad gerig op geslag. Daarom behoort die aandag nie net vir 16 dae per jaar gevestig te word op geslagsgeweld nie.

Om die rede het die Parys GPF tydens sy jaarvergadering die kwessie van voorkoming van gesinsgeweld breedvoerig bespreek. Hoewel bewusmaking hieroor in ‘n gemeenskap baie moeilik is, is mense opnuut aangemoedig om nie ‘n blinde oog te draai nie, maar veral nou oor die feestyd geslags- en huishoudelike geweld te rapporteer.

Daar is verskeie bewegings teen geslagsgeweld waar lede van die publiek kan betrokke raak. Die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders bied die ideale geleentheid vir werkgewers om ook hul werknemers in te lig oor teistering, hoe hulle dit moet hanteer en wat die werkgewer se verantwoordelikheid in die verband is, aangesien dit ‘n ernstige oortreding is wat nie net vroue nie, maar ook al hoe meer mans in die werkplek raak.

Dankie aan die GPF-bestuur en lede wat die afgelope jaar nou saam met die polisie gewerk het en baie ure ingesit het om ‘n verskil te maak met ‘n positiewe bydrae in die gemeenskap van Parys.    

 

   

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button