News

NGWATHE VERKIES NUWE LEIERS

NGWATHE VERKIES NUWE LEIERS

Die nuutverkose Ngwathe raad het op 23 November 2021 sy eerste sitting gehou en daartydens is ANC raadslede Victoria De Beer- Mthombeni as uitvoerende burgemeester en Neheng Mopedi as speaker verkies.
Dit is raadslid Mopedi se tweede termyn as speaker.
The new Speaker for Ngwathe, Neheng Mopedi. Photo: Supplied
Verder is ANC raadslede LP Sotshiva en MS Toyi onderskeidelik as sweep van die raad en voorsitter van die munisipale rekeninge oorsig komitee verkies. Die posisie van sweep is nuut geskep deur ‘n wysiging aan die Munisipale Strukture Wet wat op 1 November 2021 van krag geword het en die pligte daaraan verbonde behels onder andere die bevordering van beter verstandhoudings tussen die verskillende politieke partye wat op die raad sitting het.
Die Vryheidsfront Plus het die aanstelling van die sweep teengestaan omdat die persoon in die posisie ‘n voltydse raadslid sal wees met ‘n hoë koste verbonde daaraan, maar die ANC meerderheid het eenvoudig die besluit ter aanstelling van die sweep deurgedruk.
Verskeie opposisie raadslede wou ook dat die raad besin om van die huidige uitvoerende burgemeesterskeuse, wat in 2016 gemaak was, afstand te doen en terug te keer na ‘n nie-uitvoerende burgemeester en ‘n uitvoerende komitee waarvan die voorsitters, anders as met ‘n uitvoerende burgemeesterskomitee, deeltydse raadslede sal wees wat ‘n aansienlike besparing op toelaes te weeg sou bring, maar die ANC meerderheid in die raad het eweneens volstaan dat die amp van uitvoerende burgemeester gehandhaaf word.
Die DA het vroeër aan Gazette gesê n verandering in Ngwathe se munisipale bestuurstelsel sal miljoene rande bespaar.  “Die huidige stelsel kos miljoene sonder enige voordeel vir dienslewering, “ het DA-raadslid Arnold Schoonwinkel gesê.
“Die Lid van die Uitvoerende Komitee van die Provinsiale Raad belas met plaaslike bestuur ondersoek, na wat verneem word, tans die vermoëns van verskeie munisipaliteite om uitvoerende burgemeesterstelsels te kan bekostig en het reeds enkele munisipaliteite beveel om terug te keer na nie-uitvoerende burgemeesterstelsels” sê raadslid Van der Merwe verder. “Dit is dus moontlik dat dieselfde met Ngwathe mag gebeur weens sy swak finansiële prestasiegeskiedenis”. ‘n Besluit in die verband word tans afgewag.
Die uitvoerende burgemeester het nog nie aangedui wie sy as voorsitters van die raad se werkskomitees gaan aanstel nie, maar het vir tyd gevra om deeglik te kan oorweeg welke raadslede oor geskikte kennis en ervaring beskik om die posisies ten beste te kan vul. Die lede van die komitees sal eers verkies word nadat die voorsitters aangewys is.
In haar inhuldigingstoespraak het die nuwe uitvoerende burgemeester gesê dat dienslewering aan gemeenskappe prioriteit moet wees vir die huidige termyn.
In sy reaksie het Vryheidsfront Plus raadslid Phillip van der Merwe haar gesindheid verwelkom en gevra dat sy dadelik weer die vorige burgemeester se taakspanne vir elektrisiteit en water moet laat herleef sodat raadslede aktief betrokke kan wees by die aanspreek van probleme met dienslewering. “My ervaring is dat sake sloer wanneer kwessies eenvoudig uitsluitlik in die hande van amptenary gelaat word “ sê hy.
Uit die gesindheid wat by die vergadering geheers het, het duidelik geblyk dat al die partye betrokke erns het met verbeterde dienslewering.

Related Articles

Back to top button