News

Hondepote verf saam vir ’n naweek van kuns en verskeidenheid

Hondepote verf saam vir ’n naweek van kuns en verskeidenheid

 

 

Onthou jy die sukses van Parys se eerste kunstefees in 2018? Vanjaar kan jy die kunste uiteindelik weer op unieke wyse in Parys beleef ná lang grendelmaande van tuisbly met ‘n kunstenaweek vol gepak met verskeidenheid.

 

 

 

Bring jou viervoet vriend en sommer die hele familie vir die ArtDog pret op Sondag, 19 Desember vanaf 09:00 wanneer die dorp letterlik rooi geverf word deur hondepote wat hul eie stempel gaan afdruk vir ‘n kunswerk in eie reg.  

 

Wie weet, dalk loop jy soos in 2018 vir “Lion King” raak by vanjaar se ArtDog pretdag. Foto: Facebook

 

Die ArtDog pret begin by die heldergeverfde betonmuur in Boomstraat. Daar is baie pryse te wen – die hond en eienaar wat die oulikste aangetrek is vir die dag, die beste honde-kunstenaar en selfs die hond wat hom/haarself die meeste geniet op die kunsuitstappie. Daar sal genoeg verfstasies wees, stoppe vir ‘n snoephappie of twee, waterpunte, en selfs swemstoppe vir wagter om lyf nat te maak.

Elke hond gaan huis toe met sy/haar eie unieke kunwerk. As jy meer wil weet van dié pret skakel vir Deon by 083 338 4234, of Karin by 083 409 9041.

Maak ook seker dat jy die Flash Mob Sondag, 19 Desember om 13:30 in Parys se hoofstraat te siene kry. Musici wat jou voete onder jou sal uitslaan met hul asemrowende optrede so uit die bloute sonder aankondiging. Maar dis nie al nie.

As jy waardering het vir die digkuns, kry Vrydag, 17 Desember om 17:30 plek om die tafel by Lekker Bistro vir ‘n fees van gedigte en samesyn saam met ander wat ook waardering het vir die digkuns. Jy kan daarna ook nog uitsien na ‘n feestelike piekniek en Carols by Candlelight-aand saam met tenoor Stefan Louw by die NG-gemeente Parys-Suid vanaf 19:00 tot 20:30 op 17 Desember. Of as jy dit Vrydagaand 17 Desember misloop, is daar Saterdag, 18 Desember ‘n tweede Carols by Candlelight-geleentheid by die NG-gemeente Parys-Suid.

Saterdag, 18 Desember is boonop ‘n dag wat jy beslis nou reeds in jou dagboek moet aanteken. Dit is dan wanneer jy van 08:30 tot 15:00 ‘n fees van kuns by Egweni kan sien.

Kom kuier saam op die walle van die Vaal en sien ‘n verskeidenheid kunstenaars aan die werk, sowel as kunsstalletjies en handwerkstalletjies wat jy hier kan besoek. Kunstenaars wat jy die dag hier kan ontmoet en sien werk, sluit in die talentvolle Graffiti skrywer, Drake en sy span, Top2 wat veral bekend is vir sy graffiti-kuns in Johannesburg wat deel vorm van die Johannesburg graffiti toere, en die “magic trees” van kunstenaar Gail Scott Wilson. Uitsonderlike kunstenaars in eie reg.

Kunstenaars wat jy die dag hier kan ontmoet en sien werk, sluit in die talentvolle Graffiti skrywer, Drake en sy span, Top2, wat veral bekend is vir graffiti-kuns in Johannesburg wat deel vorm van die Johannesburg graffiti toere. Foto: Facebook

“Magic trees” van kunstenaar Gail Scott Wilson. Sy is een van die kunstenaars wat tydens die Parys Kunstefees hier in aksie sal wees. Foto: Facebook  

 

Wat ook al jou vakansieplanne is – maak seker jy is in Parys die naweek van 17 tot 19 Desember. Meer inligting is op Instagram by @parysartsfestival te sien, of skakel Deon of Karin om jou stalletjie te bespreek.    

 

Related Articles

Back to top button