News

Wat dit verg om ‘n pleegouer te wees

Wat dit verg om ‘n pleegouer te wees

Hoewel pleegouers ‘n groot behoefte is, bly dit steeds nie ‘n verantwoordelikheid wat ligtelik opgeneem kan word nie. Die Herald het met ‘n pleegouer gesels om vas te stel wat dit behels.

 

Die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) het onlangs weer die kollig op pleegouers geplaas met ‘n artikel in die Herald waarin hulle die groot behoefte aan pleegouers aanspreek. Volgens ‘n maatskaplike werker by die SAVF, Nazle Houkins, is daar al hoe minder plek vir kinders by kinderhuise en moedig sy mense aan, wat aan die regte vereistes voldoen, om kinders in nood te help. Maatskaplike werkers van die SAVF assisteer belangstellendes om vir pleegsorg te registreer en gee ook leiding in pleegouerskap.

 

“Hoewel pleegouers ‘n groot behoefte is, bly dit steeds nie ‘n verantwoordelikheid wat ligtelik opgeneem kan word nie,” sê Nazle. Sy het die Herald na ‘n pleegouer verwys wat ingestem het om oor pleegouerskap gesels. Om die pleegkinders te beskerm, word die identiteit van die pleegouer nie bekend gemaak nie en gebruik die Herald ‘n skuilnaam. * Karen en haar man het vir die eerste keer twee seuntjies in 2005 ‘n plek van veiligheid gebied. Hulle het toe reeds ‘n driejarige seuntjie van hulle eie gehad. Hulle het later eers as pleegouers geregistreer.

 
 

Wanneer jy registreer om kinders ‘n plek van veiligheid te bied, is die tydperk wat kinders in jou sorg geplaas word baie kort. “Dit kan enige iets van drie weke tot drie maande duur. Die kinders word in jou sorg geplaas totdat die maatskaplike werker al die administrasie voltooi het om hulle dan uiteindelik na die regte pleegouers toe oor te plaas. Dit gebeur soms dat kinders dadelik uit die sorg van hulle ouers geneem moet word omdat dit beter vir hulle veiligheid is. Daar is dan nie genoeg tyd om die regte pleegouers te vind en ‘n plasing te doen nie”, verduidelik Karen.

 
“Die beste opsie is natuurlik om die kind direk in die sorg van sy pleegouers te plaas, maar in baie gevalle is dit nie altyd moontlik nie. Dit gaan altyd oor die beste belang van die kind en ‘n mens probeer altyd om die kind so min as moontlik te ontwrig”, sê Karen. Sy moedig mense aan wat graag pleegouers wil wees, maar steeds bietjie huiwerig is, om eers ‘n veiligheidsouer te wees voordat hulle vir pleegouerskap registreer. Karen sê die wet is baie streng oor die verwydering van kinders. Daar is twee maniere om ‘n kind te verwyder – sonder of met ‘n hofbevel. Sonder ‘n hofbevel (met ‘n vorm 36) word kinders dadelik verwyder, maar dan moet die maatskaplike werker binne 48 uur of die volgende hofdatum in die hof wees om bewyse voor te lê waarom die kind verwyder moet word. Wanneer jy ‘n kind met ‘n hofbevel verwyder, gaan die maatskaplike werker eers hof toe en lewer bewyse en dan word die kind verwyder. Die wet tree altyd in beste belang van die kind op.
 
Kinders word van ouers verwyder slegs wanneer hulle ouers, om welke redes, nie bevoeg is om vir hulle te sorg nie. Die ideale opset is om die kinders van ouers te verwyder en dan die ouers te help om hulle te rehabiliteer of hul omstandighede te verbeter sodat die kind weer in sy ouers se sorg teruggeplaas word. “Hierdie is egter die ideale situasie. In die meeste gevalle word ouers nie gerehabiliteer nie en bly die kinders dan in die sorg van die pleegouers totdat hulle 18 jaar en ouer is. Die oorspronklike ouers se situasie word elke twee jaar geëvalueer en dan sal die hof besluit of die kind steeds by die pleegouers bly of na hulle eie ouers kan teruggaan. Karen sê ‘n mens moet altyd onthou dit gaan nooit oor jou eie behoeftes as pleegouer nie. Dit gaan altyd oor die pleegkind se beste belang. “Jy moet altyd onthou dat dit nie jou eie kind is nie en dat die kind moontlik weer terug kan gaan na sy ouers toe – hoewel dit selde gebeur. Suid-Afrika het nie die fondse om ouers te rehabiliteer of hulle omstandighede te verander nie.” Vir haar is dit ‘n onbaatsugtige liefdesdaad, want jy maak eintlik iemand anders se kind groot. Sy sê dit is baie bevredigend om te weet jy beteken iets vir ‘n kind wat dit baie nodig het. “Jy behandel daardie kinders presies soos jou eie kinders en is net so lief vir hulle soos wat jy jou eie kinders liefhet”, sê Karen. Sy en haar man het twee baba’s in pleegsorg geneem toe hulle altwee maar 11 maande oud was en hulle woon na baie jare steeds by hulle. Vir Karen en haar man was pleegouerskap ‘n geloofsaak.
“Ons het bevestiging van die Here gekry dat ons pleegouers moet wees. Ons glo absoluut dat ons die regte ding gedoen het”, sê sy. Hoewel daar na sekere kriteria gekyk word wanneer jy vir pleegouerskap aansoek doen – ouderdom, gesondheid, kriminele rekord, vermoë, motivering en stabiliteit – is daar volgens Karen twee ander belangrike faktore wat ‘n rol speel. “Jy moet ‘n gelukkige huwelik hê en altwee ouers moet saamstem oor wat hulle van pleegsorg verwag en waarom hulle dit wil doen.
 
Dis amper iets soos ‘n roeping. Pleegouerskap is vervullend, maar jy moet dit nie doen ter wille van jouself nie. Jy moet dit doen ter wille van die kind.”
 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button