NewsNews

Oud-leerder gesels oor “Meer as net ’n ma” – die meer van ma-wees

Oud-leerder gesels oor “Meer as net ’n ma” - die meer van ma-wees

“Dit is Instagram, Facebook perfeksie. Waar jy ookal op sosiale media van ouerskap lees, is die beeld wat geskep word lieflik, maar o só ver van die werklikheid af. Daar is die ‘Mommy wars’ oor keisersnee of normaal, bors of bottel, om te ‘sleep train’ of nie. In die middel van dit alles is die vrou wat eintlik net haar bes probeer om ‘n goeie ma te wees, en steeds liggaam en siel aanmekaar te hou.”

En só is Die Naguilklub in Augustus 2018 gebore. Drie gewone mammas met ‘n gedeelde hoekom, hoop en hart vir die wêreld, wat op Facebook begin gesels het in die nagure van ma-wees. Hulle wou mekaar en ander ma’s minder alleen en meer normaal laat voel. Pleks van meeding om perfeksie, het die drié in ‘n digitale wêreld ‘n ruimte geskep van ouerskap sonder oordeel – ‘n veilige plek waar ma’s mekaar kan ondersteun, en raad gee deur die genadelose fase van slapelose nagte, snotneuse en ‘tantrums’.

Een van die drie is ‘n oud-leerder van Parys, Suzanne Smit (Van Wyk), wat saam met Lente Swift en Juanli Theron, nou ook hul persoonlike ouerskapervarings – sonder filters of voorgee, “onbeskaamd eerlik”, soos ‘n beste vriendin wat verstaan waardeur jy gaan in die woorde van Zetzke van Pletzen, in hul boek, “Meer as net ‘n ma” deel.

Die boek, uitgegee deur NB Uitgewers, is sedert 1 November by alle goeie boekwinkels en in e-formaat (Amazon/Kindle) beskikbaar.

 

.

Suzanne Smit, Lente Swift en Juanli Theron, skrywers van die boek, “Meer as net ’n ma”- Stories en raad uit die hart van Die Naguilklub. Suzanne is ’n oudleerder van Parys. Foto’s: Salomien Smal. (Erkenning aan die Lanzerac Wynlandgoed waar die foto geneem is, grimering deur Ame, stilering deur Carissa Bosman en hare deur Sanmarie Botha.) 

 

Suzanne saam met haar pa, Lou van Wyk. 

Suzanne is die dogter van Lou en wyle Alta van Wyk.

Hoewel skryf in Suzanne se bloed is, gee sy erkenning aan onderwysers soos juffrou Ezilda Fouche, Marli Kruger en Bertha van Zyl van Hoërskool Parys, wie by haar die liefde vir skryf aangemoedig het. En aan haar ma, Alta, – “ek is omdat sy was,” gesels Suzanne met teer herinneringe aan haar ma. Haar pad met Lente en Juanli kom van kampusdae aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus waar hulle studeer het. Maar dit was in die nagtelike ure van ma-wees, wat ‘n hegte vriendskap gegroei het met hul Facebook-inskrywings op Die Naguilklub wat hulle gestig het. Vandag het die blad meer as 21 000 volgelinge, en nagenoeg 7 000 wat die Instagram-inskrywings volg.

Dit is op Die Naguilklub waar hulle self die realiteit van ma-wees, sonder ‘sugar coating’ kon deel en te weet ook dit is ‘ok’. Jy lees hul inskrywings en besef – hierdie is uit die hart-uit eerlik. Jy is nie alleen nie. Suzanne vertel dat mense dikwels sosiale media afmaak vir die negatiewe invloed wat dit het, maar dit was juis sosiale media wat vir hulle drie die ruimte geskep het vir terapie deur te skryf in die oomblik. Ná die oorweldigende reaksie op hul inskrywings oor die afgelope twee jaar, was dit ‘n passieprojek om die boek te skryf.

Hoewel daar bestaande dele uit Die Naguilklub inskrywings gebruik is, is daar ook nuwe stukke en gedigte, ingedeel in ‘n verskeidenheid van onderwerpe – ook alternatiewe ouerskap. Onderwerpe wat eerlik aangeraak word uit elkeen se ervaringsveld, en waar dit buite hul verwysingsraamwerk was, geskryf deur gasskrywers.

Daar is baie boeke oor ouerskap, vertel Suzanne, die moets en moenies en raadgee, maar “Meer as net ‘n ma”, is meer as ‘n boek oor ouerskap. Dit is skrywers wat skryf uit ‘n verstaan-perspektief dat met geboorte elke mamma ook dele van haarself laat afsterf wat weer gevul word met nuwe mooier dele. “Saam met die sagte rondings van ma-wees maak jou hart plek vir sagter landings.”

Dit is ‘n boek wat jy stukkie vir stukkie verteer. Wat fokus op die geestesgesondheid van elke mamma in daardie eerste jaar van ma-wees met praktiese raad.

Dit is elkeen se eie stukkie waarheid, van die ongelooflike maar soms oorweldigende vreugde en voorreg van ma-wees.

Die waarheid dat jy ook na jouself moet kyk, seker maak jy is ‘ok’.  

   

Oor die skrywers:

Lente is ma van twee en ‘n toegelate prokureur met ‘n honneursgraad in sielkunde. Sy woon in Durbanville. Suzanne is ’n toegelate prokureur en belastingspesialis en is saam met haar man en dogtertjies in Centurion gevestig. Juanli is die hoof van die Tolkdiens by Stellenbosch Universiteit se Taalsentrum en mamma van ‘n seun en dogter. Hulle woon in Stellenbosch.

 

   

 

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button