NewsNews

Hekelpenne bring vroeggebore klein mensies nader aan ’n wagtende pappa en mamma

Hekelpenne bring vroeggebore klein mensies nader aan ’n wagtende pappa en mamma

    Vir 75 dae het Kevin en Simoné Goosen na die Neonatale Intensiewe sorgeenheid (NICU) van die Clinton-hospitaal in Alberton gery met kommer wat swaar in hul harte gelê het.

Anders as ander ouers wat daardie bondeltjie vreugde kon huis toe neem ná die lang wag en uitsien, moes hulle hul 28-weke oue dogtertjie, Lily, daar in dié sorgeenheid los. ‘n Stukkie van hul harte agterlaat met elke besoek. Lily het op daardie stadium ‘n brose 770g geweeg. Die skok kon nie groter wees nadat hul oudste, nou 5 jaar oud, ‘n gesonde 40 en ‘n half weke swangerskap was.

Weens Simoné se gesondheid het haar baba nie na wense gegroei nie, en kon dokters toe al sien dat daar ‘n probleem was met Lily se hartjie.

Simoné onthou die magteloosheid. Die onvoorbereidheid en angs van die woorde ‘noodkeisersnee’ vir haar – ‘n skoolhoof van ‘n private Engelse laerskool, wat altyd glo aan voorbereid wees. In daardie hulpelose oomblikke het ‘n suster van die NICU-eenheid na hulle uitgereik met twee gehekelde ‘bonding squares’.

Met daardie twee klein gehekelde vierkante het Kevin en Simoné ‘n band gehou met hul dogtertjie wie se velletjie so teer, en haar lyfie so vol pype was, dat vashou nie ’n opsie was nie. Die enigste ding wat hulle van hul dogtertjie kon huis toe neem in daardie 75 dae.

Elke dag sou hulle een van die twee lappies by haar los sodat sy hul reuk kon kry. By premature babas is hul reuksintuig die beste ontwikkel. Dan sou Kevin die ander lappie aan hom dra en omruil met die lappie wat by Lily was, sodat Simoné weer ‘n beurt kon kry. Die lappies is van 100% katoen gemaak, en word ook net met die hand uitgespoel en natuurlik drooggemaak, sodat seepreuke nie die reuk van die baba se ouers sal oorheers nie.

Kevin en Simoné Goosen saam met hul drie kinders. Foto: Verskaf

Vandag is Lily ‘n klein, fyn dogtertjie met ‘n ‘groot’ persoonlikheid. ‘n Sprankelende, gesonde en woelige 2-jarige kleutertjie wat weinig oorgehou het van haar premature geboorte. Iets waarvoor daar groot dankbaarheid is in die harte van Simoné, en Lily se ouma, Kowie Erasmus.

Daarom het hulle besluit om ook die dankbaarheid in hul harte met ander ouers van prematuur gebore babas te deel deur vir hulle ook ‘bonding squares’ te gee met die oog op Preemie-maand en Wêreld Premie-dag, wat op 17 November, op Lily se ouma se verjaardag, gevier is. Kowie en Elmare Victor van Parys, se jarelange vriendskap het die Goosens na Anna Patat Modern Crocheter gelei.

Saam met Anneke van Anna Patat en Elmare, het vroue van Parys begin wol skenk en die hekelpenne laat wikkel om 222 ‘bonding squares’ te maak wat verlede Vrydag aan Simoné en Kowie oorhandig is.

 

Elmare Victor, saam met Simoné en Lily Goosen met van die ‘bonding squares’ wat deur Parys vroue gehekel is vir die Lily Preemy-projek. Heel regs is Anneke van Anna Patat Modern Crocheter. Foto: Verskaf

 

Die ‘bonding squares’ vir die Lily Preemie-projek, is op 17 November aan onder meer die NICU-eenhede van die Clinton-hospitaal waar Lily gebore is, en Mediclinic Sandton oorhandig. Die droom is om mettertyd ook na ander hospitale te kan uitreik, maar vir nou sal die lappies 111 kleine mensies nader aan hul mammas en pappas bring.

Simoné en Kowie deel ook hul dankbaarheid oor Lily met ‘n Kersprojek waarmee piepklein rooi en wit mussies vir premature babas oor die Kerstyd by NICU-eenhede uitgedeel sal word en is hulle reeds besig met die Lily Preemie- klerereeks vir premature babas – want uit eie ervaring het dié ma en ouma gesien dat selfs die kleinste babaklere soos sakke aan daardie piepklein mensie kan sit.

 

 

Ouma Kowie Erasmus wat gehelp het om die projek te dryf, saam met haar kleindogter, Lily.

 

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button