NewsNews

Ngwathe kan miljoene bespaar – DA

Ngwathe kan miljoene bespaar - DA

    Ngwathe se nuwe stadsraad is nog nie ingehuldig nie, maar vonke begin reeds spat omdat DA-raadslede Maandag begin het met stappe om Ngwathe se munisipale bestuurstelsel te probeer verander. Hulle sê dit sal miljoene rande bespaar. Ngwathe het sedert 2017 ‘n uitvoerende burgemeester wat aan die hoof staan van ‘n sogenaamde Burgemeesterskomitee. Al agt komiteelede daarin dien voltyds. Voor 2017 was hier egter ‘n uitvoerende komitee, almal deeltyds, onder ‘n nie-uitvoerende burgemeester.

“Die vorige stelsel met sy deeltydse lede was veel goedkoper, en die komitee was ‘n veelpartykomitee,” sê nuut herkose DA-raadslid Arnold Schoonwinkel. In 2016, net na die vorige verkiesing, het die ANC-meerderheid die ou stelsel uitgestem, ten spyte van sterk teenkanting van die DA. Ngwathe het daarna die Provinsie gevra om die huidige en baie duurder stelsel goed te keur. Die Provinsie (destyds onder Premier Ace Magashule) het goedkeuring verleen, en Ngwathe het die nuwe duurder stelsel gedurende 2017 geïmplementeer.

Sedertdien dien raadslede voltyds op die burgemeesterskomitee, en opposisiepartye is uitgesluit. Die burgemeester, speaker, en senior amptenare verdien almal ook heelwat meer. “Hierdie duur stelsel kos miljoene rand, sonder enige voordeel vir dienslewering, “ sê Schoonwinkel.

Die DA wou dit destyds stuit, maar regsopinie aan hulle was om te wag tot ‘n nuwe raad verkies word. “Nou is die tyd, “ sê Schoonwinkel. DA-raadslede gaan veg vir spoedige verandering. “Die huidige stelsel mors geld, en dit sluit opposisielede totaal uit van belangrike besluite op uitvoerende vlak,” sê nuwe raadslid Saal de Jager.

Die DA se Vrystaatse segspersoon oor plaaslike regering, Me Leona Kleynhans LPW, sê die DA ondersteun hierdie poging om munisipale kostes te besnoei. Dit mag Ngwathe soveel as R5 miljoen per jaar bespaar. DA-koukusvoorsitter Carina Serfontein verwag die stryd hieroor “sal moeilik wees” maar in belang van alle inwoners. “Die Burgemeesterskomitee sal veg vir hoë salarisse, en sal steun soek by Ngwathe se werknemers, en ook vakunies, ” sê sy.  

 

 

 

Related Articles

Back to top button