NewsNews

Jonges se natuurvideo’s beïndruk natuurkundiges

Jonges se natuurvideo’s beïndruk natuurkundiges

Twee jong leerders van Laerskool Baillie Park het nuuskieriges van oorsee laat regop sit met hulle dokumentêre video’s oor die Kruger Wildtuin. Willie (11) en Renée Jordaan (9) is twee sibbes wat ‘n besondere liefde vir Suid-Afrika se natuur- en dierelewe het en kan nie wag om saam met hulle ouers in die Kruger Wildtuin te kamp nie. “Ek hou die meeste daarvan as ons kamp. Dis lekker om in die aand om die kampvuur te sit en na die naggeluide te luister,” vertel Willie met blink oë.

 

Nie alle kinders is altyd entoesiasties om diere in ‘n groot reservaat op te spoor nie. Dit verg geduld om vir ure in ‘n motor te ry en goeie observasie om die diere uiteindelik raak te sien. Maar dié twee avontuurlustige verkenners het die wêreld se geduld en kan nie wag om meer oor die historiese gebeure in die park na te lees en vir ander daarvan te vertel nie. Willie het mooi opgelet toe sy pa van Harry Wolhuter, die eerste wildbewaarder in die Kruger Wildtuin, vertel het. Hy het self Wolhuter se verhaal gaan google en was baie geïnspireerd deur hierdie brawe man wat ‘n leeu met ‘n mes doodgesteek het nadat dit hom op sy perd aangeval het. Toe hulle die museum in die park besoek waar oorspronklike voorwerpe van Wolhuter uitgestal word, het dit Willie geïnspireer om ‘n video van hom te maak. Willie het sy sussie ingespan om die kamerawerk te doen en hulle het ‘n kort video gemaak waar hy die verhaal in Engels oorvertel het. Die titel van die video is Man kills lion with knife…in Kruger National Park! (https://youtu.be/938BXTvnzfY). Sy ander video’s is Oldest swimming pool in Kruger National Park (https://youtu.be/u1JQ2dhDDAQ) en Heroic dogs of Kruger National Park (Pet Cemetery in Skukuza) (https://youtu.be/LBnyOR68G3Y).

 
 

Dit is ongelooflik om te dink dat Willie self besluit het om video’s te maak. Hy het Youtube video’s gekyk om uit te pluis hoe hy die redigeerwerk moet doen en het toepassings afgelaai om dit uit te voer. Hy weet ook hoe om dit aanlyn te deel. ‘n Werknemer van die World Wildlife Fund (WWF) het aan Willie geskryf dat hy baie beïndruk is met Willie se eie inisiatief en sy vaardigheid. “…jy moet voortgaan om jou passie uit te leef en die natuurlewe vir die wêreld te wys – die toekoms lyk baie belowend met mense soos jy. Baie sterkte.” Nog ‘n aanhanger van Kanada, Maureen Johnston, het Willie geloof vir sy entoesiasme en het hom sommer genooi om haar in Kanada te besoek om bere op film vas te lê. Willie sê die meeste van sy vriende doen video-opnames oor games, maar hy wou iets anders doen. Hy het vasgestel dat daar min jongmense is wat opnames oor die natuur maak. Sy huistaal is Afrikaans, maar hy praat Engels in die videos omdat meer mense van ander lande dit sal verstaan. Willie se sussie, Renée, is op dié stadium tevrede om agter die kamera te bly. Sy is gesteld op kwaliteit opnames en het al vir haar broer gesê om sy vertelling ‘n paar keer oor te doen. “Maar hy hou nie daarvan dat ek vir hom sê wat om te doen nie,” bieg Renée.

Sy is baie lief vir diere en hoewel sy haar broer mooi assisteer, beplan sy om eendag eerder ‘n veearts te word. “Tensy hy my baie geld betaal om vir hom die kamerawerk te doen,” voeg sy by.  

 

https://potchefstroomherald.co.za/96308/jonges-se-natuurvideos-beindruk-natuurkundiges/  

 

   

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button