NewsNews

Pleegouers nou meer nodig as ooit

Pleegouers nou meer nodig as ooit

Daar is tans ‘n groot behoefte aan geskikte pleegouers vir kinders wat beskerming en versorging nodig het.

“Daar is tans ‘n groot behoefte aan geskikte pleegouers vir kinders wat beskerming en versorging nodig het.” So sê Nazle Houkins, ‘n vierdejaar student in maatskaplike werk aan die Noordwes-Universiteit (NWU). Sy is besig met haar internskap by die SAVF (Suid-Afrikaanse Vroue Federasie) en werk aan ‘n bewusmakingsprojek om mense meer oor pleegsorg in te lig.

Die SAVF is ‘n nasionale welsynsorganisasie wat maatskaplike dienste aan individue en gesinne binne die gemeenskap lewer om hulle te bemagtig en hulle lewenskwaliteit te verbeter. Maatskaplike werkers van die SAVF assisteer belangstellendes om vir pleegsorg te registreer.

Houkins sê dat uiteenlopende omstandighede ‘n rol speel wanneer kinders in pleegsorg geplaas word. Dit kan wees dat beide ouers sterf en kinders geen heenkome het nie of  dat die huislike omstandighede van die kinders van só ‘n aard is dat dit nadelig is vir die kind om daar te bly. Houkins sê die meeste voorvalle waarmee hulle te doen het, is kinders wat verwaarloos, mishandel of seksueel misbruik word. Sy sê dat daar al hoe minder plek is vir kinders by kinderhuise en dat sy mense wat aan die pleegouervereistes voldoen, aanmoedig om kinders in nood te help. “Die Suid-Afrikaanse regering gee ook ‘n maandelikse toelae van R1 050 aan pleegouers wat hulle by SASSA-kantore kan afhaal,” sê Houkins.

Nazle Houkins

Volgens wet moet jy aan die volgende vereistes voldoen om as pleegouer te kwalifiseer:

  • Ouderdom – mense wat aansoek doen, moet 18 jaar of ouer wees.
  • Gesondheid – mense moet fisies en emosioneel bevoeg wees om vir ‘n kind te sorg. Hulle mag nie afhanklik wees van alkohol- en dwelms nie of kinders daaraan blootstel nie.
  • Kriminele rekord – ‘n Potensiële pleegouer mag nie ‘n kriminele rekord hê of geen rekord hê wat met kindermishandeling of -verwaarlosing verband hou nie. Die persoon mag ook nie op die nasionale register vir seksoortreders verskyn nie.
  • Vermoë en motivering – Jy moet die vermoë en motivering hê om ‘n pleegouer te wees en ‘n bron van inkomste hê. Die pleegouer moet aan die kind se basiese behoeftes kan voorsien.
  • Stabiliteit – Die persoon moet ‘n omgewing aan die kind verskaf wat positief is vir die kind se groei en ontwikkeling.

Houkins sê daar is verskillende tipes pleegsorg. Familie- of verwante pleegsorg is wanneer ‘n kind by ‘n familielid of persoon bly wat hulle reeds ken.

Onmiddellike of krisis pleegsorg gebeur wanneer ‘n kind dringend van hulle ouers af weggeneem word. Langtermyn/permanente pleegsorg is wanneer kinders langer as twee jaar in pleegouers se sorg geplaas word en korttermyn pleegsorg is wanneer kinders vir ‘n paar maande tot twee jaar in pleegouers se sorg geplaas word.

“Alle kinders verdien om in ‘n veilige en stabiele omgewing groot te word. Hulle het liefdevolle en sorgsame volwassenes in hulle lewe nodig juis omdat hulle families deur moeilike tye gaan,” sê Houkins.

Volwassenes wat belangstel om ‘n pleegouer te wees, kan die SAVF in Potchefstroom by (018) 297 5240 skakel en vra om met enige maatskaplike werker te praat.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button