NewsNews

Vandag groet ons ‘n groot man, ‘n leier

Vandag groet ons 'n groot man, 'n leier

Frikkie Scheepers, voormalige eienaar van die Parys Gazette en jarelange inwoner van Parys wat diep spore getrap het in verskeie organisasies in die dorp, is vanoggend in die ouderdom van 82 jaar oorlede.

Frikkie het vir baie jare Chrisset Drukkery in die dorp gehad en het mense van heinde en ver gekom om hul troukaartjies by hom te laat druk. So het  drukwerk of ‘n kaartjiebestellling dikwels ‘n kuier om ‘n koppie tee geword, want kliënte het oor jare vriende geword.

Later jare het hy ook die dorpskoerant wat eers bekend was as die Parys Herald oorgeneem, en het die koerant mettertyd bekend geword as die Noord-Vrystaatse Gazette, en toe later – Parys Gazette.

Hy het ook die publikasies  – die Meyerton Gazette en Lesedi begin. Die koerante is almal vroeër jare ook by Chrisset Drukkery gedruk, en was dit ‘n bekende gesig om skoolkinders op ‘n Vrydag in die drukkery te sien waar hulle gehelp het om die koerant blad vir blad aanmekaar te sit, totdat die koerant in 2000 aan MooiVaal Media verkoop is. 

Die koerant was vir hom ‘n groot passie en is daar vroeër vanjaar ook met die 21ste verjaardag-bylae van die Gazette spesiale vermelding gemaak van die bydrae wat hy gelewer het tot die dorp se koerant. By menige funksie het hy voordat daar ‘n voltydse verslaggewer by die koerant was, self gesorg vir die beriggewing en foto’s, en selfs in die dae van swart-en-wit foto’s gesorg dat die foto’s in die donkerkamer ontwikkel en gedruk word. Die koerantblaaie is toe ook nog met die hand aanmekaar gesit en opgelyn. 

Hy was ‘n saggeaarde omgeemens wat betrokke was by sy gemeenskap en in menige komitee gedien het. Iemand wat woord by die daad gevoeg het. ‘n Boom wat sy koelte wyd gesprei het.

So was hy oor baie jare betrokke by Rotary, die Gideons, Parys Sakekamer, Parys Belastingbetalersvereniging,  as jeugleier by die AGS en Parys Hospice om maar enkele te noem. Hy was ‘n kranige kunsvlieghengelaar en versamelaar van oudhede. ‘n Formidabele man.

‘n Groot man nie net in figuur nie, maar in hart. Iemand wat raakgesien is, maar ook stil sy stempel kon afdruk. Stil soos wat hy vanoggend gegaan het.

Frikkie sal in tere herinneringe onthou word deur sy kinders, Frikkie en Chrisna, en sy kleinkinders, asook die gemeenskappe van Parys en Vredefort waar sy spore diep getrap is. Frikkie was vir die laaste jare by Sally Martin Park. Dankie vir hulle wat hom  met soveel liefde en teerheid versorg het.

Ons salueer jou Pa – ook vir die nalatenskap wat jy agterlaat. Net gister nog was dit weer koerantdag, maar ek weet Pa weet

   

Related Articles

Back to top button