NewsNews

Sangers: Covid-19 sal ons nie stuit nie

Sangers: Covid-19 sal ons nie stuit nie

 

Studente van die Stéfan Louw Sangskool in Parys is vasbeslote om konsert te hou ten spyte van die Covid-19 beperkings op byeenkomste. Dié groep begaafde sangers het die jaar afgeskop met ‘n huiskonsert, en sedertdien musiekliefhebbers maandeliks bederf met alles en nog wat – van opera en musiekblyspele, tot gewilde lekker-luister musiek. Die sangers wissel van 12-jariges tot 40-’somethings’, beginners tot professionele sangers. “Sanglesse gaan nie net oor die stem nie,” verduidelik die internasionaal erkende tenoor Stéfan Louw, wat al sedert 2012 in Parys woon.

“Dit is belangrik dat die studente blootstelling kry om voor mense te sing. Die maandelikse konserte help die studente om hulle verhoogkuns te verfyn, selfvertroue te bou, mikrofoontegniek aan te leer, en seker die belangrikste, om die energie te ervaar wat ‘n gehoor tot ‘n uitvoering bydra.” Ongelukkig het die afgelope twee jaar se Covid-19 inperkings mense gerieflik gemaak, verduidelik Corniël Calitz. Hy is ‘n professionele bas-bariton wat al in verskeie operaproduksies landwyd opgetree het, ‘n meestersklas student van Stéfan, en die mede-stigter van Parys se eerste operageselskap, The Little Theatre Company.

Sangstudente van die Stéfan Louw Sangskool. Van links is Lisa Venter, Mila Venter, Gwenith Rushmer, Marisa Louw, Corniël Calitz, Stéfan Louw, Shanya van der Walt, Karin Coetzee, Sonja Trautman en Danielle Venter. Foto: Belinda Elrix, Kiki’s Vintage Studio

 

“Voor Covid-19 was dit normaal vir mense om uitvoerings by te woon, maar na twee jaar by Jan Tuisbly se karretjie het mense gewoond geraak aan die gemak van hul sitkamers waar hulle op die televisieskerms na skouspelagtige uitvoerings van André Rieu, die Drie Tenore en internasionale operahuise kan kyk. Intussen sukkel plaaslike kunstenaars om ‘n bestaan te voer, selfs nadat die inperkings gestaak is, en byeenkomste nou weer toegelaat word.”

Erna Rademan, Parys se liefling-pianis, is ook betrokke by Louw se sangskool waar sy soms as begeleier optree. “Die afgelope twee jaar was vir musikante baie moeilik. Nie net finansieel nie, maar ook vir die siel. Musikante maak nie musiek vir hulself nie. Hulle maak musiek vir die gehoor. En sonder ‘n gehoor raak ons sielsongelukkig en depressief. Aanlyn uitvoerings het vir sommiges gehelp om die pot aan die kook te hou, maar dit verskaf nie kos vir die siel nie. Daarom vra ek vir Parysenaars om uit te gaan en konserte by te woon, plaaslik en in die omliggende omgewing.” Louw beklemtoon die belangrikheid wat ‘n gehoor vir sangers inhou. “Wanneer my studente staande applous kry en ek sien hoe hul oë skitter, al weet ek hul knieë bewe ‘n bietjie, maak dit my bly want dit beteken hulle ervaar die waardering wat mense het vir mooi musiek. Dit is wat hulle selfvertroue opbou! Geen aantal ure in ‘n sangles kan dit vir ‘n sanger bied nie.”

Ds. Fanie le Roux van die NG Kerk Parys-Suid geniet die maandelikse konserte net so baie. “Dit maak my en die gemeente trots om deel te wees van Stéfan se pogings om ‘n gehoor te bou vir klassieke musiek in Parys. “Ek sien ongelooflik baie uit na die musiekblyspel konsert op 6 November, asook die Kersliedere piekniek in Desember, en nog meer na Parys se eerste opera wat hier in ons kerksaal opgevoer gaan word in Februarie.

” Elke konsert is uniek, vertel Frieda Schoultz wat al van verlede jaar al Louw se konserte bywoon. “Dit is ‘n fees vir die siel om na Stéfan te kyk en te luister, en boonop die vordering wat sy sangstudente maak, dop te hou.”

“Ek kom agter dat die studente baie hard werk om elke maand nuwe liedere te leer, en selfs Stéfan gebruik die geleenthede om die gehoor se reaksie op nuwe arias te toets.” Die gehore mag dalk nog klein wees, maar vir die studente van die Stéfan Louw Sangskool in Parys is elke geleentheid om op te tree, ‘n kosbare geleentheid. Hulle is vasbeslote om voort te gaan en gehore te bekoor met hulle talente.  

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button