News

Tuindag en die lente vrolik met skrywers en digters by Die Kultuurkamer gevier

Lente vrolik met skrywers en digters by Die Kultuurkamer gevier

   

 

 

Tuindag, die kleur van Lente en prag van somertuine is verlede week luisterryk gevier by Die Kultuurkamer deur die woorde van ons land se vele bekroonde digters en skrywers soos Chris Barnard, DJ Opperman, George Weideman en NP van Wyk Louw.

Talle geesdriftige lesers het die oggend en heerlike saamkuier bygewoon met die bekroonde skrywer Zelda Bezuidenhout, self ook ‘n Parysenaar, wat die gas by die geleentheid was. Dawid Gericke het in ‘n boeiende onderhoud die naam en gesig wat aan sovele bekend is met haar vele suksesvolle jeugverhale en ander boeke uit haar pen, aan die gaste voorgestel.

Zelda is in Zambië gebore en het vertel van haar wonderlike grootwordjare in Hennenman. Sy studeer Kommunikasiekunde aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus waarna sy as kopieskrywer haar in die reklamewêreld vir bykans 35 jaar vestig.

Sewe jaar gelede het sy en haar man, Isak, hulle in Parys gevestig. en vertel sy onomwonde dat sy nooit gedink het dat sy sou boeke skryf nie. “Ek het nie gedink ek het die geduld daarvoor nie. Tog is ‘n boek eintlik ‘n klomp klein projekte – hoofstukke, blad vir blad, wat jy moet aanpak.” Sy het by haar pa geleer om wanneer jy bestuur, nie oorweldig te voel nie, maar “net hier te kyk.” En so het sy begin skryf, want wanneer ‘n ding té groot is, verloor jy maklik moed, gesels Zelda.

“Skryf is betekenisvol vir jou menswees. Ek skryf nie vir geld nie. Ek skryf eintlik omdat ek dink ek het iets om te sê wat ander mense wil lees.”  

Dawid Gericke gesels met skrywer Zelda Bezuidenhout.

 

   

 

 

Haar inspirasie skerts sy, kom dikwels wanneer sy weet sy moet ‘n sperdatum vir haar uitgewers haal – iets wat dalk deel van haar geword het uit die werksomgewing waarin sy vir jare was. Op ‘n vraag oor óf sy op sekere genres konsentreer, sê sy dat sy aanvanklik gedink het om jeugboeke te skryf sou maklik wees, maar gou besef het dat dit een van die moeilikste genres is. Sy was 40 toe sy begin skryf het, en haar dogter, Mia toe 14. Dit was Mia wat haar die voordeel gegee het om te kon skryf vir die jeug.

Oor haar boek, “Die waarde van stil bure”, ’n verhoudingsroman met elemente van mediese intrige, het sy baie navorsing gedoen, en het die idee van die tema gekom ná die besoek van ‘n kollega aan haar man, en sy hulle gesprek oor stamselnavorsing gehoor het.

Om oor emosies soos wat die karakter ervaar in dié boek, te skryf, sê Zelda, beteken dat jy moet gaan na ’n plek waar jy was, en dan kom die woorde. Zelda skroom ook nie om kontroversiële onderwerpe in te weef by haar karakters nie, want dis ons “om” wêreld. “Hoe die wêreld om ons lyk is iets waarvan ons nie kan wegskram nie.”  

 

 

Related Articles

Back to top button