NewsNews

Goue sukses vir Miané by Eisteddfod

Goue sukses vir Miané by Eisteddfod

 

“Daar is niks soos om ‘n saal vol vreemdelinge te hoor lag en handeklap, en jou soos ’n superster te laat voel nie.” Dit is die woorde van Miané Roux, ‘n 8-jarige tuisskoler van Parys nadat sy die afgelope week aan NEA (National Eisteddfod of South Africa) deelgeneem het en met vier goue diplomas en ‘n Junior Diploma weggestap het.  

 

 

Tuisskool gee dié talentvolle Miané die geleentheid om haar drome uit te leef.

Miané volg die Cambridge (Britse) kurrikulum, en het September met haar graad 3 jaar begin. Drama en eisteddfods word by dié tuisskool kurrikulum ingesluit as “Performing Arts”.

Miané het gedurende 2021 aan meer as 10 eisteddfods deelgeneem, en ook aan die begin van 2021 aan die finale rondte van Dramaweb waar sy as een van die top 10 finaliste aangewys is in die Engelse kategorie vir graad 2 tot 4 leerders.

Slegs ‘n paar weke nadat haar nuwe skooljaar begin het, het sy haar skoolweek verruil vir die drama verhoog by SACOPA 2021 (South African Championships of Performing Arts). Miané was bevoorreg om as deel van die Vrystaat span te kon deelneem.

Sy het behalwe vir haar solo-stukke en groepstukke ook die kans gekry om saam met ‘n produksie-groep van Johannesburg, St Pierre, in twee produksies op te tree. Die produksiegroep het ‘n goue- en silwermedalje gekry vir hul optredes. Miané is daarna in die Suid-Afrikaanse span ingesluit wat in Julie 2022 in Los Angeles, USA aan die WCOPA (World Championship of Performing Arts ) gaan deelneem.

Sy neem sedert 2020 dramaklasse by Amoré Kok, ‘n oudskolier van Hoërskool Parys wat self ‘n draai in Amerika gemaak het, en aan WCOPA deelgeneem het. Amoré is tans ‘n graad 12 drama onderwyseres by die Vaalpark Articon Skool.

Voor SACOPA het Miané met dramaklasse by Linda Theron Drama Studio begin en ‘n paar ekstra Afrikaanse dramastukke aangepak vir SACOPA.

Dit was moontlik omdat sy tuisskool en elke oggend vir ‘n paar weke klasse by Linda kon kry.

Behalwe vir die verhoog is Miané ook nog ‘n kranige gholfspeler en doen sy ook ballet.

‘n Bewys dat Parys se tuisskolers vir niks hoef terug te staan met baie geleenthede vir sport- en kultuurdeelname waar tuisskolers hul talente kan uitleef.  

 

 

Related Articles

Back to top button