News

Leesprobleme en disleksie: Hier is raad

Leesprobleme en disleksie: Hier is raad

 

Illustrasiefoto

  Oktober is Internasionale Disleksiemaand. Cecilia Wood, eienaar van Edublox Parys, deel ‘n paar nuttige wenke oor die hantering van leesprobleme met ouers.

Volgens Cecilia is leesprobleme ‘n groot sondebok wanneer kinders leerprobleme ervaar. Dit gebeur maklik dat ‘n verskeidenheid van simptome saamgegroepeer word en onder die sambreelterm ‘disleksie’ gediagnoseer word.

Díé woord laat ouers sommer byvoorbaat groot skrik. “Die realiteit is dat daar baie grys areas en verskillende opinies tussen dissiplines oor baie aspekte van disleksie en leesprobleme bestaan. ‘n Ouer wat vermoed hul kind kort intervensie, kom voor talle keuses te staan: klop hulle aan by ‘n opvoedkundige sielkundige, ‘n leeskliniek, of bloot by hul kind se skool? Daar is ongelukkig nie ‘n eenvoudige antwoord nie, en dit sal afhang van die kind se spesifieke probleem, die ouer se begroting en selfs aspekte soos die gesin se internet-toegang.

“Daar is ‘n paar tipiese verskynsels wat vir ouers kan aandui dat ‘n kind moontlik leesprobleme ervaar. Om uit te kyk hiervoor is ‘n goeie vertrekpunt. Dit sluit in omkering van letters soos b en d of p en q, verkeerde woordvolgorde soos emelent vir element. “As ‘n kind gedisoriënteerd raak met ‘n reël of op ‘n bladsy terwyl hulle lees, óf as hulle reëltjies mis of herhaal wat reeds gelees is,” verduidelik Cecilia. Ander tekens sluit in swak leesbegrip, hardoplees wat hakkelrig, monotoon, en woord-vir-woord is, of as hulle gereeld leestekens ignoreer en punte en kommas uitlaat.

Omdat hierdie leerders nog klein is, en nog die vaardigheid van lees aanleer, moet ouers hulself afvra of die bogenoemde deurgaans gebeur, of net soms… en natuurlik of dit afneem met die verloop van tyd soos wat die kind veronderstel is om te vorder. Cecilia bied raad vanuit ‘n onderwys-agtergrond en nie uit ‘n mediese invalshoek nie, maar kan wel bevestig dat daar nie-mediese intervensies is wat in sommige gevalle bekostigbare alternatiewe vir ouers kan wees.

“Ons glo byvoorbeeld dat ernstige leesprobleme oorkom kan word deur kognitiewe opleiding wat die grondvaardighede van lees ontwikkel en tekorte regstel – insluitend konsentrasie, persepsie, geheue en logiese denke – of ‘n kind dislekties is of nie. ‘n Goeie en betroubare verskaffer van leesintervensies sal altyd na ‘n gepaste mediese professionele persoon verwys as hulle vermoed die kind se probleem strek wyer as hul spesialis-area.”

Sy som op: “Ongeag die tegnieke of dissiplines waaronder leesprobleme moontlik aangespreek kan word, is dit steeds belangrik dat ouers ondersoek instel as hulle vermoed hul kind sukkel. Ek moedig elke ouer aan om vol te hou om die regte intervensie-metode vir hul kind te soek, afhangend van hul begroting, ligging, mediese fonds voordele, ensovoorts, en ek juig saam met elke kind wat die nodige ondersteuning kry.”

Cecilia deel nog ‘n paar wenke met ouers:

• Omdat taal so ‘n noodsaaklike rol speel wanneer dit by lees kom, is dit belangrik om kinders van hul babadae af bloot te stel aan geleenthede om taal te hoor.

• As jy ‘n leessentrum of sielkundige nader, maak ‘n lys van enige waarnemings of bekommernisse wat jy kan saamneem na jou afspraak.

• Meeste kinders sien baie daarna uit om te leer lees en meeste leer relatief vinnig – maar vir ander voel dit asof dit heeltemal buite hulle bereik is. Wees dus sensitief teenoor ‘n stadige leser of ‘n kind wat dislekties is.

 

 

Related Articles

Back to top button