NewsNews

Brand verwoes twee huise by oord

Brand verwoes twee huise by oord

Ten spyte daarvan dat hulle hul huis en al hul besittings binne oomblikke verloor het in ’n verwoestende brand Vrydag in die Kopjeskraal-omgewing, het Jacques en Natasha Weideman, eienaars van die Rocky Ridge vakansieoord, nie woorde om hul dankbaarheid te beskryf nie.

“Ons is geseënd dat die besigheid nie groot skade gelei het nie. Maar meeste is ons geseënd met ’n groot, almagtige en genadige God wat Sy hand van beskerming oor elkeen gehou het, en ons deurgedra het toe dinge op die ergste was, ” vertel Natasha ná daardie angs ure waarin hul grasdakhuis, en die huis van ’n huurder agter hulle deur ’n see van vlamme, gedryf deur sterk rukwinde, verwoes is.

Natasha was nog in die dorp toe sy net na 11:00 Vrydagoggend die stemboodskap op ’n WhatsApp-groep oor die brand by Kopjeskraal gehoor het. Sy het terug gejaag na Rocky Ridge, maar niks kon haar voorberei op wat sy daar sou sien nie.

Sy moes inderhaas voorberei vir die hulp wat op pad was. Haar honde in haar voertuig laai. Die huurder agter haar laat weet om ook sy diere te vat en eerder na veiligheid te vlug. ’n Rivierpomp gaan aanskakel om te help met water vir die vuurvegters. Kliënte vra om op te pak en so gou moontlik te vertrek omdat sy bang was hulle word vasgekeer. Sy moes hekke oopsluit, reël dat ’n vuurvegter gehaal word wat van die bure beskikbaar gestel het. Die vuurvegters wat op pad was wys waarheen om te gaan.

Kort voor lank was die vuur al teen die store by die huis. Nadat die eerste vuurvegters in is, vertel Natasha het hulle weer uitgekom want die gevaar was net té groot en die pad na buite skaars sigbaar deur die vlamme, rook en stof. Jacques was op daardie stadium van die werk af op pad huis toe en moes self sy pad deur die rook probeer kry met sig wat bykans onmoontlik was.

Toe hy op Rocky Ridge kom was die grasdak van hul huis reeds in ligte laaie. Daar is oral probeer om die vlammegolf te keer, vertel Natasha, maar die huis en hul bure se huis het letterlik in oomblikke voor hul oë afgebrand.

 

Al wat hulle mee weggestap het was die klere aan hul lywe en hul honde wat betyds gered kon word. Ten spyte daarvan is hulle ongelooflik dankbaar dat hul lewens en die lewens van hul personeel gespaar, Elisa, Mirriam en Seun gespaar is. “Nie een van ons personeel wou na veiligheid gaan, al het ons hulle verskeie kere probeer oorreed. Hulle het die vlamme aangedurf om die buurman uit sy brandende huis te red.”

Hoewel die chalets op die perseel op ’n stadium in gevaar was, kon skade verhoed word danksy die vele hande wat kom help het.

“Ons is geseënd met ’n wonderlike gemeenskap, familie, vriende en hope vreemdelinge wat hul harte oopgemaak het en dadelik ingespring het om beddegoed, kruideniersware, brandstof, kragopwekkers vir die oord en klere vir ons te kry. Ons wens ons kon elkeen op die naam noem en bedank, maar daar was eenvoudige té veel oop harte en hande om name te noem.”

“Ons sê vir elke persoon wat ons bygestaan het en donasies gegee het baie dankie. Ons het verblyf en is nie beseer nie. Dankie aan elke vriend, familielid, individu, groep of besigheid wat ons bystaan. Ons het nie woorde om ons dankbaarheid te beskryf nie,” sê Jacques en Natasha.

Twee jaar gelede het die Kopjeskraal-omgewing ook deurgeloop onder ’n verwoestende brand, en net soos daardie tyd, het Vrydag se brand weer gewys op die waarde van goeie buurmanskap in tyd van nood. Bure moet kontak hê met mekaar en daar moet radiokommunikasie wees deur die Marnet/Burgb-stelsels, het Sarel van der Wat, sameroeper van Roepgroep 6/Rooikat gesê wat saam met die Working on Fire span van Parys en vrywilligers onverpoosd gewerk het om die brand teen laat Vrydagaand onder beheer te kon bring, nadat dit aan die westekant van Rocky Ridge vroegoggend al begin brand het.

Dit was uiteindelik die aanloopbaan by Makoro Safaris en die voorbrande wat deur die Working on Fire-span gemaak is, wat gehelp het om die brand in sy spore te stuit, en ernstige skade te voorkom by ander vakansieoorde langs die Kopjeskraal-pad. Met die sterk, dwarrelwinde is die vlamme in ’n suidoostelike rigting oor sowat 50km gedryf.

Saterdagmiddag het dit ook langs die Parys/Potchefstroom-pad (R53) duskant die Buffelshoek-polisiestasie gebrand, en is die brand teen ongeveer 20:00 onder beheer gebring. Roepgroep 6 en oorgrens Potch-boere asook die Potchefstroom-brandweer het gehelp om die brand te bestry, maar moes daar weer baklei word teen die sterk, rukwinde wat vlamme vinnig en lank genadeloos gedryf het.

Omdat gras droog is en brandgevaar steeds baie hoog is, het Van der Wat veral mense met grasdakke gevra om seker te maak dat dit skoon is rondom hul huise met geen brandbare materiaal of lang gras wat die gevaar van brande kan verhoog nie. Hy het ook ’n beroep op mense gedoen om in te skakel by hul buurtwagte, noodgroepe en brandverenigings. Mense wat wil weet waar om in te skakel kan hom skakel by 083 284 6392.

 

Related Articles

Back to top button