News

Diewe laat hulle nie hinder nie – Eskom en radiostasie loop weer deur

Derduisende se skade

Skade van derduisende is Saterdagoggend in die vroeë oggendure gelei nadat diewe vir die soveelste keer Witkop langs die Parys/Fochville-pad geteiken het. Verskeie kommunikasie- en sekuriteitstoerusting is op dié hoë terrein geïnstalleer.

Parys Sekuriteit en boere in die omgewing het blitsig gereageer nadat die sekuriteitstelsel die diewe se teenwoordigheid verraai het, toe hulle eers ondergrondse Eskom-kabel weggedra het. Die diewe het egter in die bosse verdwyn voordat hulle betrap kon word, maar deur die nag ’n kat-en-muis speletjie gespeel op die moeilik begaanbare en beboste terrein om nie gevang te word nie.

Telkens wanneer daar nie beweging was nie, het hulle eenvoudig teruggegaan om hulself naas die Eskom-kabel, ook te help aan die noodkragopwekkingsbatterye en ’n dekodeerder van die KSFM radiostasie. Die diewe het nie minder nie as 3 keer teruggegaan om hul buit te kom haal.

Met hul tweede poging het hulle teen die herleitoring opgeklim en die sekuriteitskameras se drade geknip. Verskeie diensverskaffers wat toerusting op Witkop het, het al in die verlede enorme skade as gevolg van diefstal hier gelei, en is dit duidelik dat die verdagtes presies weet waarna hulle soek. In Oktober 2020 het KSFM nagenoeg R100 000 se skade gehad toe diewe die hele senderkas gesteel het. Dié keer is die senderkas oopgebreek maar net die dekodeerder gevat.

Ten spyte van die radiostasie se bystandstelsel wat nou weg is weens die diefstal, kon met die hulp van Belrex, ’n tydelike plan gemaak word om die dekodeerder te omseil sodat stromings uitsendings soos normaal kon voortgaan, het Sakkie van der Schyff, bestuurder van die radiostasie aan Gazette gesê.  

Die senderkas van die KSFM-radiostasie op Witkop, wat die afgelope naweek deur diewe oopgebreek is. Toe diewe die vorige keer toegeslaan het, is die hele senderkas weggedra. Foto: Flippie van Straaten.

Herstelwerk sal hopelik later vandeesweek nog gedoen kan word, sê hy. “Die ergste was om die skurk op kamera te sien en te wag dat Koepel stil raak, wat toe om 01:00 Saterdagnag gebeur het”

Hy het groot lof gehad vir Sarel van der Wat en boere van die omgewing asook sekuriteitspersoneel wat telkens blitsig gereageer het, hoewel die verdagtes elke keer weens die moeilik begaanbare terrein kon wegkom. Sakkie sê ook dankie aan Manus en Adel Coetzee vir hul ondersteuning vir die radiostasie ná die diefstal. 

Die radiostasie se skade na die naweek se diefstal beloop ongeveer R30 000.

Sedert sekuriteitskameras geïnstalleer is, het diefstal by Witkop drasties afgeneem. Dit was egter nie net Witkop wat die afgelope week deurgeloop het nie. Daar is verlede week ook gepoog om sonpanele by die herleitoring by Greenlands te steel, asook om die noodkragopwekkingsbattery by ’n herleitoring by Vaal Marina te steel.  

Related Articles

Back to top button