News

Masker laat selfs kenners kopkrap

Masker laat selfs kenners kopkrap

 

Die Erfenisstigting se museumstoor by die Voortrekkermonument het een van die mees unieke items nóg ontvang wat tot ’n kenner laat kop krap het. Dié skaapvel-masker is deur Wilna Mentz en die Mentz-familie geskenk. Volgens familie-oorvertelling is dié masker gebruik om jou gesig teen die son te beskerm. Wilna se man Johannes Petrus Mentz, is die agterkleinseun van Anna Elizabeth de Klerk (Mentz), wat in die Bethulie-konsentrasiekamp saam met haar vier kinders tydens die Anglo-Boereoorlog was.

Dr. Johan van Zÿl, senior vakkundige van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke by die Nasionale Vrouemonument, het bevestig Mentz en haar kinders was in dié konsentrasiekamp. Hy het die masker as baie vreemd en bisar beskryf. “Ek het nog nooit op so iets afgekom nie.”

“Dit is van skaapvel gemaak en hoe ons dit weet, is dat daar rokke van skaapvel gemaak in die Bethulie-konsentrasiekamp was.” “Dit is korrek wat die familie vertel het, maar die rede vir die masker se gebruik sal altyd onseker wees,” sê Van Zÿl.  

 

Anna se dogter, Elizabeth Margaretha, het in 1965 ’n oorvertelling getik van hul ervaring as kinders in die konsentrasiekamp, en die haglike omstandighede waarin hulle moes leef. “Talle mense was toe al siek en elke dag het ’n fluitjie van die kamppolisie geblaas.” “Sodra ’n lyk verwyder word, het die fluitjie ’n skril geluid laat hoor.”

“Só was ons eendag by die begraafplaas toe daar in die 20 oop grafte 20 lyke geplaas is, almal in komberse toegewikkel. Kiste was nie bekombaar nie,” skryf Elizabeth Margaretha. Petra Luus, die Erfenisstigting se museumkurator, sê daar is meer as 2 000 skenkings wat al ontvang is, maar daar is nog nooit op só ‘n masker afgekom nie. Dit maak die item van onskatbare geskiedkundige waarde.

 

Petra Luus, die Erfenisstigting se museumkurator, hou die masker vas. Inlasfoto: Anna Elizabeth de Klerk (Mentz) gebore in 1863 en oorlede in 1956. Foto’s: Verskaf  

 

 

 

Related Articles

Back to top button