News

55 jaar se saamstap

55 jaar se saamstap

Wanneer jy 55 jaar saam is, is woorde amper onnodig om die hart se taal te verstaan. Dink twee koppe soos een, en is saamstap die sekerste manier van bo kom.

Vir Thew en Rika Pitout het 55 jaar se saamstap op 8 Oktober in ‘n kerk in Vrede begin, nadat ‘n kollega van Rika wat saam met haar in die poskantoor gewerk het, hulle aan mekaar voorgestel het.

Thew het geboer en ná tien jaar in Natal, het hul lewenspaaie hul na verskeie plekke geneem – eers vir ses jaar na Parys, toe Kroonstad, Vredefort en Virginia, en in 1996 terug na Parys waar hulle die afgelope 25 jaar gevestig is. Rika het al die jare in die poskantoor gewerk en in 2002 die tuig neergelê, maar vir stilsit is daar nog nie tyd nie. Sy brei teddiebere vir een van die polisie se eenhede vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe.

Thew het in die jare wat hulle in Parys is, aan sowat 100 windpompe gewerk, totdat ouderdom halt geroep het vir windpomp-klim. Nou trek hulle na Coligny – ’n dorp wat bekend is vir sy windpompe.

Maar dit is nie net die windpompwerkery waarvoor Thew bekend is nie. Die gesig van ‘n volbloed Arabier en sy ruiter wat die dorp saam-saam verken, het jy gereeld twee keer ‘n week gesien as hulle ‘n draaitjie deur die dorp gaan ry het.

Wanneer Thew en Rika einde November Coligny toe verhuis, trek Nothergi saam. Hoe dan anders, dit is soos vinkel en koljander – dié perd en sy ruiter hoort saam.  

       

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button