NewsNews

Sekspes erken skuld

Sekspes erken skuld

 

Nicholas van der Merwe, die sekspes wat homself op WhatsApp ontbloot het, het skuld beken op 13 aanklagte van onder meer ontbloting en crimen injuria.

 

“Hoe het julle my opgespoor?” was die woorde aan die polisie toe hulle Nicholas van der Merwe (36), Donderdag, 30 September in hegtenis geneem het. Hy het op 7 Oktober weer in die hof verskyn en skuld beken op 13 aanklagte van onder meer ontbloting en crimen injuria. Hy sal na verwagting op 3 November gevonnis word. Van der Merwe het berug geword deur homself tydens WhatsApp-oproepe te ontbloot en tydens die oproep te masturbeer. Johan Botes, ‘n privaat speurder van Potchefstroom, was vasberade om die seksoortreder vas te trek nadat ‘n skoolvriend hom genader het. Dié vriend se vrou het so ‘n oproep van die beskuldigde ontvang en ander eiendomsagente van Potchefstroom was ook aan sy afskuwelike gedrag blootgestel.

 

Hoewel Van der Merwe vroue landwyd van sover as Tzaneen en die Kaap geterroriseer het, was die meeste van sy slagoffers in Gauteng. Botes het sy eerste deurbraak in die saak gemaak toe ‘n vrou hom geïdentifiseer het as iemand wat saam met haar op skool was. Nadat hy genoeg bewyse ingesamel het, het hy drie maande gelede die polisie in Gauteng se eenheid vir reeks- en elektroniese misdaad (SECI) genader om betrokke te raak. “Met die hulp van die kuberintelligensie-eenheid het die SECI vir Van der Merwe nagespoor, in hegtenis geneem en op sy selfoon beslag gelê,” vertel Botes.

 
 

Van der Merwe was werkloos en het by ‘n vrou gewoon by wie hy ‘n negejarige seun het. Die vrou het geweier om sy borgtog te betaal. Botes sê Van der Merwe het vrouens landwyd geviktimiseer deur hul telefoonnommers op die web te kry en daarna te bel. “Hy het sommige vrouens tot sewe keer op een dag gebel. Sy optrede het baie skade veroorsaak,” sê Botes en vertel hoe een van die vrouens wat gebel is, toevallig ‘n verkragtingslagoffer was wat weer van vooraf aan ‘n seksoortreder blootgestel was. Sommige vrouens se mans het hulle daarvan beskuldig dat hulle buite egtelike verhoudings gehad het en ander se kinders is weer aan die ontstellende video-oproepe blootgestel. Botes sê dat 25 vrouens verklarings afgelê het, maar dat Van der Merwe waarskynlik meer slagoffers het. Hy doen ‘n beroep op ander wat moontlik ‘n slagoffer van die verdagte was om hom by 082 227 9823 of ao. Huligonda Smuts van die Walmer-speurtak by 082 319 8707 te kontak.

 
https://carletonvilleherald.com/50953/sekspes-erken-skuld/

       

Related Articles

Back to top button