News

Sestal vereer vir bewaring van Afrikanererfenis

Sestal vereer vir bewaring van Afrikanererfenis

 

Die FAK (Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge) het die afgelope naweek vir die eerste keer aan ‘n groep van ses erkenning gegee vir die beskerming en behoud van die Afrikanererfenis in hulle betrokke gemeenskap. Hierdie groep van ses, of “Die Gideonsbende” soos mense hulle leer ken het, bestaan uit Gys en Kobie Ströh, Okkie Jooste, Mark Walkden, Frans Harding en Marius van Zyl. Die Ströh-egpaar het ook al naam gemaak as ‘monumentjagters’ en bedryf die Facebook-blad, Monumente, gedenktekens en interessanthede Suid-Afrika. Die ander vier mans is lede van die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging. “Hulle is ’n werklike inspirasie vir almal. Behalwe dat hulle elkeen ook verteenwoordigers is vir ander instansies, het hulle hulle deel al dubbel en dwars gedoen as lede van die FAK-Vaal-Kultuurnetwerk,” sê Barry Müller, projekorganiseerder van die FAK-Kultuurnetwerke in Gauteng.

“Die sestal neem gereeld die leisels, nie net om ons erfenisbakens te beskerm en te behou nie, maar ook om ‘n lewenslange verskil te maak in die sigbaarheid van ons nalatenskap. Hulle is ‘n voorbeeld vir elkeen van ons en dra die vaandel hoog vir ‘n trotse Afrikaneridentiteit. “Ons is tans besig om die toekoms se geskiedenis te skryf en hierdie Gideonsbende is besig om ‘n hele hoofstuk te skryf. Mag elk van ons in hulle voetspore volg,” het Müller gesê. Dié sestal is elkeen met ‘n sertifikaat van waardering vir hulle onbaatsugtige werk vereer, asook ‘n wegbreek en kuier by die FAK se Udolpho Rivierplaas buite Parys. Jan-Danie Malan, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Vrystaat, wat hulle op dié plaas ontvang het en ook al vir projekte in dié provinsie saam met hul gewerk het, sê die groep van ses is vrywillige lede wat projekte bywoon en soms self inisieer.

“Dit is mense wat die konsep van selfdoen verstaan en ‘n daadwerklike verskil vir die nageslag maak. Erfenis- en kultuurbewaring is in hul gedagtes vooropgestel en hulle ondersteun hul gemeenskappe.” “Ek wil elkeen wat die fakkel in sy hart voel brand, uitnooi om deel te word van iets groter as die ekself. Die FAK is ‘n kultuurtuiste vir die toekoms wat ons met trots aanpak,” het hy gesê.  

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button