News

Bruidegom kry toe ook boete

Vroeë rugbykykers en bruidegom toe ook beboet

 

Of jy té vroeg opgedaag het vir die rugby, nie jou skulderkenningsboete betyds betaal het nie, of op trou staan – daar was min genade Saterdag voor dié regbank, want skuldig was hulle skuldig edelagbare – en dit vir ’n goeie saak. Soos elke jaar het dié prettige “Boete betaal of boei-fondsinsamelingsprojek” van Vrystaat Versorging in Aksie die koppe laat draai, die tonge aan die praat gehou en die lagspiere in oefening gehou vir die kwinkslae wat Saterdag agter die tralies, en voor die regbank gehoor is.

Die projek help jaarliks om die finansiële druk op VVA Parys te help verlig met ’n gemeenskap se harte en beursies wat oop is vir die nood van ander. Talle “aangeklaagdes” en besighede het reeds vooraf hul boetes betaal as “erkenning van skuld” – hetsy jy nou té min pannekoeke vanjaar gekoop het of wat ookal die oortreding kon wees.

Dan was daar ook dié wat vir die pret self hul saak wou kom stel voor die landdros op die stoep voor AB’s. Vir sommige was die skuldgevoel en boeie een té veel en het hulle hulself vrywillig kom oorgee. Daar was selfs ’n bruidegom wat deur sy vriende uitgelewer is, en as jy durf waag het om té vroeg jou sit te kry vir die rugby, was dié ‘lang arm van die gereg vir die dag’ daar om ’n boetefooi te eis – sommer vir nog ekstra pret.

VVA Parys sê dankie aan elkeen wat met soveel geesdrif deelgeneem het aan die dag, dié “dienaars van die gereg”, en hulle wat vooraf ’n bydrae gemaak het. “Dit is julle wat dit vir VVA makliker maak om ’n daadwerklike verskil in ons gemeenskap te maak.” As jy nog finansieel iets bydra of ‘n donasie wil maak vir die projek, kan jy VVA se kantoor in Buitenstraat besoek.  

 

 

 

   

 

     

Related Articles

Back to top button