News

Onthou-goed word hou-goed vir museum-droom

Onthou-goed word hou-goed vir museum-droom

 

 

Antoon Marx het waarde in enigiets kon sien. Ook dit wat vir ander skroot en waardeloos was.

Sodra hy twee van iets gehad het, was dit die begin van nog ‘n versameling. Fietslampe en lanterns, rye en rye slotte, nommerplate, bekers blaaasbalke, sakhorlosies, knope, kameras, sleutelhouers, staanhorlosies, slypstene, put-pompe, grawe, siwwe, botteloopmakers, emmers, kanne, kieries (baie wat hy self ook gemaak het) – enigiets wat hy raakgeloop het.

 

Die emmers is destyds gebruik om gevangenes wat uitgegaan het om te gaan werk, se etes in te pak. Foto’s: Verskaf  

Jy kan jou verkyk aan dié versameling nommerplate so met die instapslag. Parysenaars het toentertyd die OV-nommerplaat op hul motors gehad.

 

Saam het hy en Irene kuslangs van Port Nolloth tot St Lucia gery. Elke dorpie saam verken. Geen antieke of pandjiewinkel, óf skrootwerf sou hy verbyry sonder om te stop nie. Só het hy bymekaar gemaak – gekoop en gekry, gerestoureer en dan ’n plek gegee. Deel gemaak van die storie van twee mense se liefde vir oudhede. Antoon is op sy verjaardag in 2018 aan ‘n hartaanval oorlede. Nou, drie jaar later, is Irene besig om op te pak. Sy verhuis na Vanderbijlpark waar sy op ‘n kleinhoewe van ‘n jarelange vriendin van haar en self ook ‘n oud-Parysenaar, Ronell Steenkamp, sal bly. Saam met haar trek die kosbare versameling oudhede. Haar droom – om by of naby haar nuwe tuiste ‘n museum te begin, met ‘n teetuin. Al is Antoon nie meer daar nie, leef die passie vir oudhede steeds in die hart van die 80-jarige Irene. Dit hoor jy wanneer jy saam met haar deur die huis en tuin in Allemanweg stap wat nou verhuur sal word. Die huis was ‘n museum in eie reg waar jy jou kon inleef in die onthou-stories wat aan rye en rye spykers en hakke hang.

 

Irene en Antoon Marx

 

 

.

Daar is selfs ’n versameling grawe tussen al die gereedskapversamelings reg rondom die huis.

 

 

 

 

 

In wyle Antoon Marx se versameling is ook vele fietslampe – baie wat hy self gerestoureer het  

Soos sy om die huis loop wys Irene na ‘n klomp emmers wat destyds gebruik is om die gevangenes se etes in te pak wanneer hulle gaan werk het, die OV-nommerplaat wat toentertyd gesê het jy is ‘n Parysenaar. Sy vertel van die sakhorlosies wat aan offisiere gegee is tydens Wêreldoorlog I, en ‘n slypsteen wat gekom het van die Weermag se Wagon Division wat in die 1900’s gebruik is om die wiele van die ossewaens reg te slyp. “Ons het nie so baie geld gehad om oor te baklei nie, maar ons het so baie gehad om oor saam te stem,” vertel Irene as sy gesels oor haar en Antoon se lewe saam..

Sy het destyds as privaat sekretaresse ná ’n lang loopbaan by die Weermag met vervroegde pensioen afgetree, terwyl Antoon aanvanklik ‘n werktuigkundige by Spoornet was, wat uiteindelik as toesighouer by Spoornet ook met vervroegde pensioen die tuig neergelê het. Toe trek hulle van Pretoria na Parys. Haar geskarrel om al die breekware vir Antoon se kleindogter se troue gehuur te kry, het Irene daar en dan die blink plan gegee vir ‘n verhuringsonderneming waar sy allerlei, breekware, tafeldekor en linne kon verhuur. So het Eneri verhurings (Irene agterstevoor gespel) sy ontstaan gehad 16 jaar gelede. Toe sy eers genoeg gespaar het vir ’n omkapmasjien, het sy materiaal gekoop en soos die behoefte daar was, tafellinne in ‘n verskeidenheid van kleure gemaak en verhuur.

Agt jaar gelede het ‘n vriendin haar ook oortuig om ‘n winkel vir perdebenodighede te koop, en kort voor lank was Stableyard Parys ook hare.

Die onderneming het mettertyd ook huis toe geskuif. Albei die ondernemings is verkoop. As gesoute sakevrou is Irene reeds aan die planne maak vir haar museumdroom en teetuin wat sy saam met ‘n vriendin wil aanpak, want die herinneringe wat sy en Antoon oor soveel jare versamel het, is ‘n storie wat sy graag ook met ander wil deel.  

Related Articles

Back to top button