NewsNews

Skuldig, edelagbare – vir ’n goeie saak

Skuldig, edelagbare - vir ’n goeie saak

 

As jy wil weet wie is agter tralies, en wie gaan borg betaal, moet jy Saterdag, 2 Oktober van 10:00 af sorg dat jy ‘n draai maak by AB’s restaurant in Waterstraat, waar Vrystaat Versorging in Aksie (VVA), sy nou reeds bekende, Boete betaal of boei-veldtog hou.

 

         

 

 

Maar hoekom die Boete betaal of boei-veldtog?

Die veldtog is een van VVA se fondsinsamelingsprojekte waarmee broodnodige fondse ingesamel word om dié welsynsorganisasie se wiele aan die rol te hou om sy dienste te kan lewer aan hulle in nood. In uitdagende ekonomiese tye soos nou, word die nood by die dag groter, en bydraes al minder namate mense self uitgawes sny. Hoewel die harte en hande van Parys se gemeenskap oor die jare baie oop is vir die werk wat die VVA in die gemeenskap doen, word daar swaar gesteun op fondsinsamelings soos dié om te help om steeds alle dienste te kan lewer met die beperkte fondse wat daar is.

Wat doen die VVA in jou gemeenskap?

Maatskaplike dienste:

Onder die maatskaplike gevalle wat deur die drie maatskaplike werkers en twee hulpwerkers hanteer is vir 2020/21, is daar heelwat statutêre gevalle. Die syfer het op 875 gevalle gestaan waar dienste gelewer is. Gevalle waar maatskaplike wekers vroeë intervensiedienste aangebied het was 774. Etes en kospakkies: Gedurende April 2020 tot Maart 2021 is 3472 kospakkies uitgegee vir 25 gesinne wat weekliks van kos voorsien is. Daar is ook oor die R20 000 se doeke, klere, komberse en nie-bederfbare kospakkies vir ander in nood uitgedeel.

Sakpas klerewinkel: Klere skenkings word aangewend om ‘n stel klere per maand aan ‘n behoeftige te voorsien. Die klere in die winkel word ook aan die publiek verkoop teen minimale bedrae wat dan aangewend word om in ander behoeftes van behoeftiges te voorsien. Daar is vir 2020/2021 tot sover reeds 700 stelle klere gratis uitgegee.

Skenkings: Alle skenkings van bruikbare items word aan die publiek uitgedeel soos die behoefte hom voordoen en kan daar rekenskap gegee word van elke item wat inkom en uitgaan.

Behuising: Die VVA se Danie Fourie woonstelle word tans bewoon deur 13 bejaarde inwoners, terwyl daar ook bekostigbare behuising aan bejaardes gebied word by Hanlu woonstelle. Hierdie wooneenhede word deur VVA Parys onderhou. Die huurinkomste is minimaal en dek skaars die instandhouding van die geboue. Op ‘n daaglikse basis word die behoeftiges en behoeftes net meer. VVA sal nie sonder jou en die res van die gemeenskap ‘n verskil kan maak aan die nood van ander nie. Kom ondersteun daarom die Boete betaal of boei-veldtog en geniet ‘n dag vol pret Saterdag, 2 Oktober. Jy mag dalk verras wees oor die ‘klagtes’ teen die ‘áangeklaagdes’ wat nie hul boete betaal het nie.  

 

Related Articles

Back to top button