News

Aanvallers gevonnis wat boer 10 keer skiet

Aanvallers gevonnis wat boer 10 keer skiet

 

 

 

Die boer van Muiskraal wat in Augustus verlede jaar in ‘n aanval tien keer geskiet is se aanvallers is gevonnis.

André Marais (54) is tydens ‘n rooftog in sy been geskiet en het die aanval oorleef nadat hy ‘n aaromleiding ondergaan het.

Volgens ao. Jacques Nagel, ‘n ondersoekbeampte van die Carletonville speurtak wat deel was van die ondersoekspan wat die saak ondersoek het, is vier mans einde Julie in die streekhof in Ventersdorp gevonnis. Nkosinathi Thembinkosi Mdluli (36), Ramito Joseph Ngolele (31), Joel Thomas Novele (35) en Ernesto Pedro Shirondza (36) is elk tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hulle skuldig gepleit het op aanklagte van roof met verswarende omstandighede. Die saak teen Kenneth Andries Modisane (36) en Olavio James Ngoveni (34) is teruggetrek.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in die Noordwes het destyds bevestig dat die aanval om 18:00 plaasgevind het toe drie verdagtes ʼn tuinier (68) op die plaas buite sy sinkhuis oorval, vasgebind en binne sy huis met ʼn pistool aangehou het. Marais se honde het begin blaf toe die tuinier om hulp roep en hy het sy geweer geneem om buite ondersoek in te stel. Toe hy by die tuinier se huis kom, het die verdagtes op hom losgebrand. Marais het inmekaarsak waarna die verdagtes sy vuurwapen en ʼn mes by hom afgevat het. Hulle het daarna in ʼn silwerkleurige sedan gevlug. Boere wat die skote in die omgewing gehoor het, het dadelik na Marais se huis gery en paaie afgesper in ʼn poging om die aanvallers vas te keer.

https://potchefstroomherald.co.za/93139/aanvallers-gevonnis-wat-boer-10-keer-skiet/

 

 

Related Articles

Back to top button