News

Hier’s dit nou! Die famous rooikop wat jou laat skater oor Boer Soek ‘n Vrou

Hier’s dit nou! Die famous rooikop wat jou laat skater oor Boer Soek ‘n Vrou

 

Lisa van Rooyen, beter bekend as Lisa met die rooi hare, het geen bekendstelling nodig nie. Sy is Potch se eie plaaslike ‘celebrity’ wat bekend geword het vir haar grappige kommentaar op sosiale media na elke episode van die TV-reeks, Boer Soek ‘n Vrou. As jy nie ‘n kranige vlinder op sosiale media is nie en jou kinders jou nog nie van haar vertel het nie, is dit tyd om haar op te soek. Haar 70 000 volgelinge op Youtube, Facebook en Instagram, wat by die dag meer word, kan nie wag vir haar volgende kwinkslae wat sy oor die mees onlangse episode van Boer Soek ‘n Vrou gaan kwytraak nie. Almal sien haar as die ‘fun girl’ wat met haar goedige opmerkings bietjie die boere en hulle vriendinne se been trek. Sy spot met elke inleiding van haar video-opnames dat sy Boer Soek ‘n Vrou kyk sodat jy nie hoef nie. Haar opnames is verder skreeusnaaks omdat dit so goed geredigeer is. Sy gebruik graag die reaksies op mense se gesigte en snaakse woorde uit vorige TV-opnames wat sy by haar insetsels invoeg.

 

Die spontane en aantreklike, rooikop se “verhoognaam” het eintlik al op skool begin. Sy vertel dat hulle vier Lisa’s in die voogklas by Gimmies was, daarom het sy haar Instagram, Lisa met die rooi hare, gedoop. “Daar was kort Lisa, blonde Lisa, sportiewe Lisa en dan was ek Lisa met die rooi hare.” Op skool was sy stil en teruggetrokke terwyl sy tog graag van kleins af talent en belangstelling in die vermaaklikheidsbedryf getoon het. Sy het graag op skool in konserte en musiekblyspele gespeel en het ook klavierlesse en dansklasse gehad. Na skool het sy by die Campus of Performing Arts (COPA) in Pretoria ingeskryf om die musiekindustrie beter te leer ken. Sy stel veral in die besigheidsafdelings van die musiekindustrie belang en weet nou meer oor platemaatskappye, hoe om kontrakte te lees en handelsooreenkomste te sluit. “Ek het van kleins af vir my ma gesê ek wil ‘n ‘rock star’ word en ‘famous’ wees, lag sy.

 
 

Lisa se snaakse video insetsels het haar ‘famous’ gemaak, maar sy het aan die begin eers geëksperimenteer voor sy uiteindelik soveel duisende aanhangers gekry het. “Dit het alles begin met Amerikaanse realiteitsprogramme wat ek op TV gekyk het – programme soos Bachelor en Survivor. Ek het ook gemerk dat daar mense in Amerika is wat op Youtube grappige opsommings van dié programme maak. Dit trek baie aanhangers in Amerika. Ek het opgelet dat ons nie so iets in Suid-Afrika het nie en het besluit om dieselfde hier te doen,” vertel Lisa. Sy het haar video’s in Afrikaans gedoen, terwyl die programme, Bachelor SA en Survivor SA, in Engels was. “Dit was nie so suksesvol nie en ek het toe besluit om die Afrikaanse realiteitsprogram, Boer Soek ‘n Vrou te kies. “Ek kon nie glo dat soveel mense daarna begin kyk het nie. Dit het al my verwagtinge oortref,” sê sy. Nou volg die aanbieder van Boer Soek ‘n Vrou, Marciel Hopkins en die boere haar ook op sosiale media.

  Sy sê dit laat haar bietjie geïnhibeerd voel, want sy weet dat die boere kyk. Sy terg en maak grappies en wil hê haar volgelinge moet lag, maar sy wil dit nie ten koste van die boere doen nie. “Jy moet weet waar om die streep te trek. Ek vra altyd eers vir my ma as ek oor iets twyfel, want ek wil nie kwetsend wees nie,” sê Lisa. Sy vertel ook dat die boere op sosiale media nou meer nuuskierig is oor wat sý oor hulle gaan kwytraak as om nuuskierig oor die TV-opname self te wees.

 
Lisa het al van die boere self ontmoet en sê dat hulle almal baie aangename manne is. “Hulle is eintlik so ‘nice’ en het self ‘n baie goeie sin vir humor, maar die TV-opnames maak hulle gespanne en dan kom hulle boring oor,” skerts sy. Lisa se hele aanslag is vermaaklik en die glasie wyn wat sy so in haar een hand vashou, skep die indruk dat jy nou saam met ‘n goeie vriendin sit en kuier. Sy verduidelik dat die glasie wyn net ‘n rekwisiet is wat sy gebruik omdat sy nie regtig weet wat om met haar hande te doen nie. “Dit is meer gemaklik om iets vas te hou.
 
“Ek het aan die begin ‘n beker koffie gebruik, maar dit het nie gewerk nie,” sê sy.
Haar ma het aan die begin haar dogter se opnames met haar vriendinne gedeel en gevra dat hulle dit asseblief vir ander moet aanstuur sodat Lisa haar eie wyn kan begin bekostig, spot Lisa. Later het die glasie wyn so deel van haar karakter geword dat wynkelders vir haar bokse wyn begin stuur het. “Ek kon dit nie glo nie.
 
Ek is nie regtig eintlik ‘n wyndrinker nie. Wyn proe vir my eintlik soos werk. In my af tyd drink ek nie eens meer wyn nie. My ouma was aan die begin bekommerd oor my wyndrinkery en het al vir my gesê: ‘Lisa, bietjie minder wyn.’ Sy stel ook gedurig haar vriendinne gerus dat sy nie eintlik so baie wyn drink soos in die video’s nie. Lisa het verlede jaar haar studies voltooi en is nou terug in Potchefstroom. Sy het klaar naam gemaak en verdien verder ‘n inkomste met die vervaardiging van promosievideo’s en seremoniemeester optredes. “Ek geniet dit nogal om as seremoniemeester op te tree en droom daarvan om eendag my eie TV-program te hê.”
Sy is baie positief oor die toekoms en maak die beste van geleenthede wat oor haar pad kom. Sy praat ook graag oor haar kêrel, Rudloph van Niekerk, ‘n NWU toerisme student wat eers opleiding in wildbewaring gehad het. “Hy is wonderlik en gemaklik met al my lawwighede en is selfs bereid om die kamera so nou en dan vas te hou,” sê Lisa met ‘n vonkel in haar oë.
 
Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig: Hier’s dit nou! Die famous rooikop wat jou laat skater oor Boer Soek ‘n Vrou – Potchefstroom Herald
 
 

       

Related Articles

Back to top button