News

Orgaanskenking: Wanneer genadekanse oor jou pad kom

Orgaanskenking: Wanneer genadekanse oor jou pad kom

 

 

Sy was 29 met twee kleuters en geen rede om te vermoed dat sy ernstig siek was nie. Tog het ’n dowwe kol in haar een oog, Benita van Zyl bekommer. Sy is na haar broer, dr. Gerrie Lindeque, wat ‘n bloedtoets gedoen het. En toe kom die skoknuus op ‘n Saterdagoggend met ‘n oproep van Gerrie – Benita het nierversaking. Daar was geen familiegeskiedenis van nierkwale nie – ook nie ander simptome nie.

Dokters het later vermoed dat urienrefluks moontlik die oorsaak van die nierversaking kon wees. Maar met daardie enkele oproep het Benita en haar gesin se lewens ingrypend verander, vertel Gerhard, as hy terugdink aan dié dag 18 jaar gelede. Vir hulle was dit ‘n bestiering dat dit so gou opgetel is. Verskeie toetse by ‘n spesialis het gevolg met ‘n tweede skok toe die spesialis gesê het dat sy drie maande later dialise sou nodig hê, en hoogstens drie jaar kon leef.

In hierdie tyd het Benita geleer wat dit is om elke dag positief en met geloof aan te pak. Ten spyte van wat die spesialis gesê het, kon Gerrie haar vir nege jaar behandel voordat sy uiteindelik op 38 vir die eerste keer moes begin met dialise.

Elke week se beplanning het gedraai rondom hospitaalbesoeke vir die vier uur lange dialise, drie keer per week in Potchefstroom. Sy het nie energie gehad nie. Gesinsvakansies en vinnige wegbreeknaweke was onmoontlik want hulle moes naby ‘n dialisesentrum wees en aanpas by die dialise-tye. Gerhard en Benita se seuns moes klein-klein leer selfstandig wees. As gesin moes hulle opofferinge maak met die wete dat die lewe kosbaar is.

Dit was ‘n pad van uitdagings, uitgawes, kliënte wat nie altyd begrip gehad het vir die ure wat Gerhard nie beskikbaar was wanneer Benita dialise moes kry nie.

Maar dit was ook ’n geloofspad te midde van die uitgestelde terminaliteit wat die dialise gebring het. Aanvanklik was dokters nie oortuig dat sy ‘n kandidaat vir ‘n nieroorplanting sou wees nie, maar sy is tog in 2013 op die skenkerslys geplaas.

Maande se wag het jare geword.

‘n Vriendin het in die tyd aangebied om haar nier vir Benita te skenk. Die eerste rondte toetse om te bepaal of sy ‘n geskikte skenker sou wees, was positief, maar voordat die tweede rondte toetse gedoen kon word, het die telefoon op 25 April 2018 gelui.

Benita het ‘n uur gehad om in Johannesburg by die Donald Gordon Akademiese-hospitaal te kom. Daar was ‘n skenkernier vir haar beskikbaar. Die operasie van sowat drie ure het goed afgeloop en sy het verbasend gou herstel met geen komplikasies nie.

Na ‘n week in die hospitaal kon sy huis toe gaan, maar moes daarna nog drie maande in isolasie wees om infeksie te voorkom. Om in 2018 met ‘n masker te loop, was ‘n aardigheid vertel Benita met ‘n glimlag. Mense het jou skeef aangekyk.

Vir Benita het dit gevoel of 16 jaar van haar lewe ‘gesteel’ is, maar vandag het sy net dankbaarheid oor die genadekans op lewe wat haar gegun is. Hoewel sy steeds gereeld moet gaan vir bloedtoetse en fisiologiese toetse om haar te monitor, gaan dit goed en kon sy op 47-jarige ouderdom onlangs saam met Gerhard selfs hul tweede wittebrood hou – ver weg van dialisesentrums.

Om ’n orgaanskenker te word verg net ‘n paar minute en die bereidheid om ‘n vorm in te vul. Met daardie paar minute kan jy iemand se lewe verander wanneer die tyd daar is. Besoek die Organ Donar Foundation se webblad (www.odf.org.za) en kyk hoe jy ‘n skenker kan word. As jy die besluit neem moet jy jou naasbestaandes daarvan vertel sodat hulle weet wat jou wense is.  

 

Related Articles

Back to top button