News

Vonnis vir vyf bykans 6 jaar ná twee se dood

Staat wil appelleer teen vonnis

‘n Uitmergelende verhoor van langer as 2 jaar en vyf maande met meer as 64 hofdae, het vandag, Vrydag 10 September, einde ten laas tot ‘n einde gekom vir die vyf mans van Parys wat reeds in Mei 2020 deur regter Corné van Zyl skuldig bevind is aan onderskeidelik aanranding, en aanranding met die doel om ernstig te beseer, na die dood van Samuel Tjixa en Tumelo Simon Jubeba.

Regter Corné Zyl het vandag in haar vonnisuitspraak  Boeta van der Westhuizen (52) en Anton Loggenberg (55), elk tot 15 maande korrektiewe toesig gevonnis wat bepaal dat hulle vir die tydperk in huisarres is en dus by die huis moet wees met die uitsondering van die tye wat deur die hof vasgestel is.  Anton se seun, Cor (24), en Boeta se seun, Loedie (23), en skoonseun, Miela Jansen van Vuuren (28) het aldrie opgeskorte vonnisse gekry met die voorwaarde dat hulle nie in die tydperk weer aan dieselfde klagte skuldig bevind word nie.

Boeta se aanbod tydens die verhoor dat daar aan elk van die oorledenes se families R20 000  betaal word, is tydens die vonnisuitspraak deur regter Van Zyl ‘n bevel van die hof gemaak  en moet voor 1 Oktober betaal word. Nie een van die vyf mans is onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te mag besit nie.

Die staat het in sy saak waarin die mans vir moord aangekla was,  aangevoer dat hulle vir Tjixa en Jubeba na bewering sodanig sou aangerand het op 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik dat hul kort daarna aan hul beserings beswyk het in die Parys en Pelenomi-hospitale onderskeidelik. Tjixa en Jubeba is deur ‘n groep mans aangekeer nadat verskeie boere op die noodroep gereageer het na ‘n plaasaanval op Loedie van der Westhuizen (sr.) op die plaas Biesiesbult.

Maar dit was uiteindelik die getuienis van ‘n afgetrede patoloog, prof. Jan Botha, wat vir die verdediging getuig het, wat die staat se getuienis op sy kop gedraai het. Regter Van Zyl het in haar verkorte uitspraak verlede jaar gesê, prof. Botha se getuienis was onbetwisbaar en was dit wat hy getuig het in skerp kontras met wat deur die staat se 204 getuies in die hof gesê is. Hy het sy getuienis suiwer gebaseer op die nadoodse verslae, foto’s en ander getuienis wat toe reeds voor die hof gehou was.

Dit was uit sy getuienis duidelik dat die oorledenes kon sterf weens onvoldoende mediese hulp, en die ernstige beserings wat hul moontlik kon opdoen in hul reeds beseerde toestand toe hulle oor ruwe terrein van die plaas Swartklip met ‘n polisievangwa vervoer is om die ambulans langs die pad te ontmoet wat hulle verder sou vervoer. Regter Van Zyl het tydens haar uitspraak in Mei die mans skuldig bevind aan aanranding na aanleiding van hul eie verklarings en getuienis. Die staat het  na afloop van vandag se vonnisuitspraak  aangedui dat hy gaan appelleer teen die vonnis.

Die uitmergelende verhoor van die afgelope bykans ses jaar was gekenmerk deur vele oponthoude, veranderings aan die verdediging se regsspan, spanning en lang ure in die hofsaal. Maande van onsekerheid en trauma vir die oorledenes se families, maar ook die families van die beskuldigdes.  

 

Adv Pistorius voor die hof in gesprek met Boeta van der Westhuizen. Foto: Alet van det Walt, Netwerk24
 
Foto: Alet van der Walt, Netwerk24

Related Articles

Back to top button