News

Aardklop nou by die Voortrekkermonument om den brode

Aardklop nou by die Voortrekkermonument om den brode

https://potchefstroomherald.co.za/92298/aardklop-nou-by-die-voortrekkermonument-om-den-brode/

 

Potchefstromers is uit die veld geslaan na gister (2 September) se aankondiging op Facebook en Netwerk24 dat die Aardklop kunstefees vanjaar wel van 28 September tot 3 Oktober aangebied word, maar dat dit nou by die Voortrekkermonument sal plaasvind.

 

  “Dit was ‘n besluit wat ons op kort kennisgewing moes maak. Ons het vroeër aangekondig dat ons die fees vir die tweede agtereenvolgende jaar nie kan aanbied nie, maar ons is nou desperaat om die kunstenaars te help. Hulle het ‘n groot terugslag sedert die Covid-19-pandemie gekry en sukkel vir die afgelope 18 maande om brood op die tafel te sit”, sê Alexa Strachan, hoof uitvoerende bestuurder van Aardklop.

 

Volgens Strachan was die besluit van die direksie om Aardklop van Potchefstroom na Pretoria te skuif drie weke gelede geneem en het hulle nie lank hieraan beplan nie. Die fees kan nie meer in Potchefstroom voortgaan nie, omdat die Noordwes Universiteit se fasiliteite, weens die pandemie, nie meer vir die fees beskikbaar is nie.  “Die groot lokale waar ons produksies in Potchefstroom aangebied het soos die ouditorium, konservatorium en die Totiussaal is nou vir die publiek gesluit en nie al die skole kan hulle skoolsale beskikbaar stel nie. Die feesterrein kan ook meer bestaan nie, aangesien dit te veel mense lok”, sê sy.

Alexa Strachan, feesbestuurder van Aardklop. Foto: Verskaf

Aardklop se kaartjieverkope het die afgelope jare ook gewys dat 75% van al die verkope deur inwoners van Gauteng gedoen word. Strachan sê dat hulle vroeër ‘n produksie van Frank Opperman, Donkie, in Potchefstroom moes kanselleer omdat daar nie genoeg belangstelling van die Potchefstromers was nie, terwyl die toneelstuk vol sale in Pretoria getrek het. “Dit was een van die redes waarom ons besluit het om die fees te skuif.”

 

Strachan praat van ‘n Aardkloop wat nou ‘n “opwipfees” geword het en verwys na die vinnige manier waarop die fees gereël word. “Hier pop ‘n ‘show’ op en daar pop ‘n ‘show’ op. Dit word so gedoen om kunstenaars so ver as moontlik tegemoet te kom. Die fees word hoofsaaklik by die Voortrekkermonument aangebied omdat daar klomp kleiner lokale in die gebou is waar produksies aangebied kan word. Verder sal die fasiliteite van Afrikaans Hoër Seunskool en die Atterburry teater ook gebruik word. “My lojaliteit lê steeds in Potchefstroom. Dis die dorp waar ek grootgeword het. Ons sou die fees weer graag in Potch wil aanbied as die omstandighede anders was, maar ons weet nie wat die toekoms vir ons nou inhou nie”, sê Strachan. Sy voeg by dat die fees nou sukkel om borge te kry omdat maatskappye weens die swak ekonomiese klimaat hulle bemarkingsbegrotings inkort. Die Aardklop kunstefees was vir 21 jaar, sedert 1989, in Potchefstroom aangebied en was sinoniem met die mooi studentedorp wat met elke lente besoekers uit die stad verwelkom. Die fees was ook elke jaar ‘n groot ekonomiese inspuiting vir die dorp en Potchefstromers is terleurgesteld dat hulle nou so stief behandel word. “Ons is jammer dat die nuus vroeër gebreek het en ons nie tyd gehad het om die inwoners vroegtydig in te lig nie. Die plan was eintlik om dit amptelik vandag bekend te maak” , sê Strachan.

     

Related Articles

Back to top button