NewsNews

Hier lê geskiedenisspore diep getrap

Hier lê geskiedenisspore diep getrap

   

Lede van die FAK-Kultuurnetwerke van Parys en die Vaaldriehoek het die afgelope naweek ‘n historiese toer deur Parys gedoen waartydens ook Liebenbergkoppie en die Kopjeskraal-grafte besoek, en kranse gelê is.

Jan-Danie Malan, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Vrystaat, sê dié Kultuurnetwerke bestaan uit lede van verskeie organisasies soos die Suid-Afrikaanse Weermagveterane se Kiewiet-tak, Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) Vaaldriehoek en ander private persone wie se harte almal warm klop vir Afrikaner kultuur en geskiedenis.

Malan vertel dit was ‘n propvol program met “vele onverwagte interessanthede”.

“By die Parys-museum het Warren Flores vir ons oopgesluit. Hy is ‘n vrywilliger wat die museum opknap, en het saam met sy span oor die afgelope paar maande uitstekende werk gedoen. Dr. Danel van Tonder van die Noordwes-Universiteit het ’n geologie-les oor die Vredefort-Koepel aangebied wat ‘n uitstekende perspektief gegee het oor waarom die Voortrekkers deur sekere dele getrek het en hul afgestorwenes op sekere plekke begrawe het.”

Malan sê nog ‘n interessante staaltjie wat vertel is uit pres. Paul Kruger se tyd is dat die Vrystaters en Transvalers nie oor die grens op die eilande in Vaalrivier kon saamstem nie. “Paul Kruger het toe beslis dat ‘n bottel in die rivier gegooi moet word. Die gevolg was toe waar die bottel in die water geland het, die een kant Transvaal was en die ander kant die Vrystaat.”

Malan sê dié museum, wat van skenkings afhanklik is, is beslis ‘n besoek werd.

Dié groep het toe die Wêreldoorlogmonument voor die stadsaal besoek, en daarna met die Fochville-pad uit Parys na Liebenbergkoppie gery.  

By die Wêreldoorlogmonument voor Parys se stadsaal is van links Jan-Danie Malan en sy dogter Christel, Mark Walden, Marius van Yl, Frans Harding, Kobie Ströh, Okkie Jooste en sy seun, Gysbert. Foto: Verskaf. Inlasfoto: Die klip wat deur lede van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) van Liebenbergkoppie na Kopjeskraal gebring is om diegene wat daar oorlede is, te herdenk. Foto’s: Verskaf

By Liebenbergkoppie is ongeveer 14 Voortrekkers dood en by die Vaalrivier twee op 23 Augustus 1836. Die Voortrekkerlaer van Barend Liebenberg is teen die Vaalrivier (12,4 km buite Parys op die Fochville-pad, R500) deur krygers van die amaNdebele (Matabeles) van Mzilikazi (Silkaats) aangeval en uitgemoor.

Later daardie selfde oggend word ‘n laer ‘n enkele kilometer stroomaf bestorm. Albei hierdie groepe was deel van Andries Hendrik Potgieter se trek wat die Kaapkolonie waarskynlik teen die einde van 1835 verlaat het. Barend Liebenberg se kamp was aan die voet van ‘n koppie op die huidige plaas Rietpoort.

Die trek het bestaan uit ses mans, vyf vroue, 22 kinders en ‘n aantal werkers – Barend en sy vrou, Maria, hul drie seuns, Stefanus, Barend, Hendrik en hul gesinne. Ook Hendrik se skoonseun, Jan du Toit en sy gesin, en die skoolmeester, McDonald. Verder was daar ‘n onbekende aantal “diensbodes” in Liebenberg se trekgeselskap. Hulle staan rustig uitgespan onder die alleenstaande koppie wat vandag nog as Liebenbergkop of -koppie bekend is.

Die ander groep Trekkers van Johannes Botha, Hermanus Steyn en Lucas Bronkhorst met hul mense het verder stroomaf kamp gemaak op die plaas wat later as Kopjeskraal bekend sou staan.  

Die klip wat deur lede van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) van Liebenbergskoppie na Kopjeskraal gebring is om diegene wat daar oorlede is, te herdenk. Foto: Verskaf

Terselfdertyd was ene veldkornet Stephanus Erasmus van Aliwal-Noord – nie deel van die Groot Trek nie – op ‘n jagtog in die omgewing van die huidige Potchefstroom. Saam met Stephanus was daar ook sy drie seuns, Stephanus, Daniel en Pieter, asook Pieter Bekker en sy seun, en dan ook Johannes Claasen, Carel Kruger en ‘n aantal werkers. Lede van Erasmus se jaggeselskap gaan Sondag, 21 Augustus in drie groepies veld toe om te jag. Met hul terugkeer, ontdek hulle dat hul kamp in hul afwesigheid aangeval is.

Afgesien van die verwoesting van die jagkamp en die verlies aan besittings en diere was daar ook swaar lewensverlies onder dié wat in die kamp agtergebly het. Hulle besef dat dit ‘n aanval deur die amaNdebele moet wees, waarop Erasmus en sy seun ooswaarts, Vaalrivier se kant toe, jaag ten einde die Voortrekkers teen Maandag, 22 Augustus te gaan waarsku dat die amaNdebele in aantog is en dat hulle moet laer trek.

Barend Liebenberg slaan egter nie ag op Erasmus se waarskuwing nie omdat hy ‘n veldkornet uit die Kolonie nie vertrou nie. Hy trek daarom nie laer nie en sy kamp word op 23 Augustus, in die nag of vroegoggend, aangeval en byna almal uitgemoor. Aan Liebenberg-kant sterf ses mans, twee vroue en ses kinders: die 71-jarige Barend, sy drie seuns en (sy seun) Hendrik se vrou, Jan du Toit, die Skotse skoolmeester McDonald, asook die ses kinders en ‘n aantal bediendes. Sommige in die groep ontkom wonderbaarlik, soos Jan du Toit se vier kinders, wat onopgemerk in ‘n wa bly lê het en Christiaan Liebenberg se vrou.

Van die twee meisies en Barend Liebenberg junior se seun, Christiaan, is nooit weer gehoor nie.

Ná die toergeselskap die Liebenbergkoppie besoek het en kranse daar gelê het, is hulle terug op die Potchefstroom-pad om op die plaas Kopjeskraal vir Jean-Marie van den Bergh te ontmoet, waar sy hulle ‘n toer deur een van die oudste plase in die ou Transvaal gegee het.  

 

Van links is Jean-Marie van den Berg, Charlotte Smallberger, Gys Ströh, Frans Harding, Marius van Zyl, Kobie Ströh, Mark Walden, Okkie Jooste, Righardt Jooste, Jan-Danie Malan en Kevin en Anita Meiring. Foto: Verskaf

“Die FAK-Kultuurnetwerke het daar ook ‘n krans gelê by die grafte vir diegene wat daar oorlede is en ook vir die lede van GGSA, wat die grafte daar met baie navorsing en tydsame prosesse kon identifiseer. Hulle het ‘n klip van die Liebenbergkoppie geneem en op eie onkoste ‘n inskripsie laat maak en by dié grafte opgerig. “Ons innige dank aan dié lede, David Thomas van der Merwe (2 Desember 1936-16 April 2020) en sy vrou Valerie Christine van der Merwe (5 April 1939-28 Mei 2021).

Sy was ‘n nooi Liebenberg en oom Hendrik Schalk Steyn (21 April 1939). “As dit nie die vir die steen was wat hulle daar geplaas het nie, was die geskiedenis heel moontlik verlore,” sê Malan.

Die dag is afgesluit by die FAK se Udolpho Rivierplaas met ‘n heerlike braai en kuiergeselligheid. Stories en ervarings is gedeel en sê die FAK dankie vir elkeen wat die dag bygewoon het.  

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button