NewsNews

Plaaslike steun nou meer as ooit nodig vir avontuurtoerismebedryf

Plaaslike steun nou meer as ooit nodig vir avontuurtoerismebedryf

   

Oor naweke is Parys die ene beweging met beswaarlik plek vir ‘n muis, laat staan nog parkeerplek. Mense drentel van winkel na winkel in die dorp se hoofstraat, sit op restaurantstoepe, en geniet die wegbreek van ‘n stadsgewoel of die uitkom weg van grendelmure.

Hoewel die prentjie jou herinner aan ‘n voor Covid-tyd is hierdie allermins ‘n weerspieëling van wat die afgelope maande in die avontuurtoerismebedryf gesien is.

‘n Bedryf wat totaal afhanklik is van toerisme, en soos restaurante, die drankbedryf en die gasvryheidsbedryf swaar geraak is deur inperking en die beperking op beweging. Vir hierdie bedryf is daar desnieteenstaande verslapping van inperkingsregulasies verreikende gevolge weens die pandemie, wat nou ’n totale klemverskuiwing van die teikenmark gebring het.

Talle oorde en fasiliteite in en om Parys was in die verlede ‘n gewilde keuse vir spanbou-aksies, skooluitstappies, kerkgroepe, korporatiewe funksies en feeste. Maar telkens wanneer regulasies verskerp word, word besprekings minder.

Hoewel die winter tradisioneel stiller is in dié bedryf, sê Bennie Pretorius van Real Adventures, is tot ‘n kwart en selfs minder besprekings as ander winterseisoene vanjaar gemaak weens vlak 4 regulasies.

Hoewel meer besprekings vir Augustus en September verwag word, is die agterstand van die afgelope jaar en ‘n half groot, en speel die ekonomie en mense se vrese om gemaklik rond te beweeg, steeds ’n rol.

Met die korporatiewe mark wat voorheen ‘n groot bydrae tot die bedryf gelewer het, is maatskappye nou minder geneig om in groepe aktiwiteite aan te pak. Covid-gevalle veroorsaak ook dat besprekings op die nippertjie gekanselleer of uitgestel word. Spanbousessies word nie meer gedoen nie.

Al lyk die dorp se strate besig, spandeer mense nie soos vroeër nie. Waar mense voorheen ‘n naweek sou bly, het baie net dagbesoekers geword.

Gevolglik beteken dit dat baie van die oorde en avontuurtoerisme-ondernemings soos Real Adventures ook drasties oorhoofse uitgawes moes sny, sê Bennie.

Jy verloor opgeleide gidse waaraan tyd en geld spandeer is om hul met vaardighede toe te rus. Baie van wie nou in die buiteland ‘n heenkome gaan soek.  

 

 

Ook Stonehenge wat vroeër heelwat konferensies gedoen het ook in die wintermaande, was stil. Hoewel besprekings na die Desember inperkings effens opgetel het in Januarie, is dit steeds die korporatiewe mark wat stadig uit die wegspringblokke kom met geldelike oorwegings wat ‘n stokkie gesteek het voor konferensies en funksies, maar ook die beperkings wat nou op geleenthede soos hierdie geplaas word.

Voorheen was Stonehenge ook ‘n gewilde keuse vir feeste – ook iets wat nie nou gehou kan word nie. Julie was doodstil met geen besprekings nie. Nou is die hoop dat vlak 2 regulasies hopelik verligting sal bring vir die bedryf wat in die verlede ook ‘n groot inspuiting vir Parys se ekonomie was.

Baie oordeienaars voel egter dat hoewel groepbesprekings steeds in die weegskaal is, kan private besoekers tog ‘n verskil maak en word juis nou op die plaaslike gemeenskap staatgemaak vir ondersteuning.

Hannes en Elmarie Pretorius, eienaars van Dimalachite vertel dat private besoekers gedurende die somer hulle deurgedra het. Teen Mei het besoekersgetalle begin afplat, en is daar ook op instandhouding van die tuin en terrein in die stiller maande gefokus. Die kampterrein is opgegradeer en verbeterings aangebring by die rivierfront.

Die instandhouding van ‘n oord en groot venues is ‘n enorme kapitale uitgawe wat nie agterweë gelaat kan word as jy in die bedryf is nie, en het selfs die ysige wintertemperature verdere druk geplaas met waterverwarmingstoestelle en pype wat gebars het. Skoolgroepe en korporatiewe groepe het voorheen tot 50% van Dimalachite se inkomste ingebring, vertel Hannes – iets wat daar nou nie meer is nie. “Maar as dit goed gaan met die toerismebedryf, gaan dit goed met ander besighede in ‘n dorp,” sê Hannes tereg. Baie toeriste wat ‘n oord of fasiliteit besoek, ondersteun ook ander besighede in die dorp. “Dit gaan lank vat om te herstel,” sê hy, maar is hulle dankbaar vir private mense se ondersteuning wat hier kom kampeer of van die chalets gebruik maak, vir ‘n daguitstappie kom braai of wildkyk, of aan aktiwiteite soos witwaterroei deelneem.

Awie van den Berg van Thwane Bush Camp sluit ook hierby aan as hy sê dat mense dikwels die persepsie het dat plaaslike fasiliteite net regstaan vir die stadsbesoeker. Dit is helaas nie die geval nie, en moedig hy juis ook Parysenaars aan om moeite te doen om te kyk wat hier in jou omgewing aangebied word deur die verskillende oorde.

Hy vertel dat baie al verras was om te hoor dat staproetes by Thwane jou oor die hoogste punt in die Vredefort Koepel sal neem waar jy tot by Bothaville sal sien. Dit is hier waar jy selfs ‘n 12km staproete kan doen, en as jou asem nie so lank is nie, die roete in drie dele kan aanpak. Ook hier kan jy sommer net vir ‘n dag kom ontspan in die veiligheid en rustigheid van ‘n Bosveld-atmosfeer, jou tjoppie op die vuur sit, of oorslaap en die stilte van die nag onder die sterrehemel ervaar.    

   

Parys en sy avontuurtoerisme fasiliteite en oorde is immers bekend vir die ongelooflike mooi natuurskoon, die Vredefort Koepel as wêrelderfenisgebied en die dorp se rustigheid en gasvryheid.

Voeg daarby die sentrale ligging van Parys, en die magdom van aktiwiteite waaruit jy kan kies. Van boogskiet en 3D boogskiet, ‘gondola rides’, ‘paint ball war games’, witwaterroei met opgeleide gidse, absailing, vierwielmotorfiets ritte en avontuurbane, tot vele oorde wat jy as dagbesoeker kan besoek of vir ‘n naweek kan oorbly en die dorp gaan verken.

     

 

Dit alles en meer hier op jou voorstoep sonder om ‘n arm en ‘n been te betaal om jou tenk vol petrol te maak. Covid-protokol word streng gevolg en kan jy met gemoedsrus nog die luukse van hierdie aktiwiteite ervaar teen bekostigbare pryse. As gemeenskap kan jy jou deel doen om hierdie oorde en ondernemings te bemark onder jou vriende en familie as hulle weer ‘n draai in die dorp maak.    

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button