News

FAK herdenk Afrikaanse Taaldag en vereer onderwysers

FAK herdenk Afrikaanse Taaldag en vereer onderwysers

 

 

Die FAK het Maandag Afrikaanse onderwysers van Parys Primêre skool met Mossiemuntsleutelhouers en fynbos vir Taaldag vereer.

Van links is Jan-Danie Malan, (projekorganiseerder van die FAK-Kultuurnetwerke in die Vrystaat), Karien Viljoen, lid van die FAK-Parys-Kultuurnetwerk, Rika du Plooy en Marlie de Bruyn (Parys Primêre skool) waar hulle hul sleutelhouers ontvang het.

 

Afrikaanse Taaldag word jaarliks op 14 Augustus gevier. Op dié dag dink mense wat Afrikaans praat en lief is vir die taal, terug aan ’n dag in 1875 toe agt mans in Dal Josafat naby die Paarl vergader het om die Genootskap van Regte Afrikaners (die GRA) te stig.
Hoewel Afrikaans nie ’n spesifieke geboortedag of -plek het nie, word die stigting van die GRA op 14 Augustus 1875 (in wat nou die Taalmuseum in die Paarl is) as Taaldag gevier omdat hierdie gebeurtenis uiteindelik tot die erkenning van Afrikaans as ’n amptelike taal gelei het.
Karien Viljoen, lid van die FAK-Parys-Kultuurnetwerk, het juis fynbos as simboliek van die plek waar Afrikaans sy beslag gekry het, uitgedeel en Jan-Danie Malan, projekorganiseerder van die FAK-Kultuurnetwerke in die Vrystaat, het die Mossiemuntsleutelhouers “as hoogste eer” aan die groep onderwysers oorhandig.
Malan vertel hulle het van klas tot klas gegaan “om so min as moontlik leertyd weg te vat. Oral is ons met entoesiasme en groot belangstelling ontvang. Dit is hier in die klaskamers wat die Afrikaanse onderwyser sy staal wys en die kappie op die ‘e’ sit van sê en hê, sodat die Afrikanerkind kan taal hê om sy sê in Afrikaans te kan sê.”
Muntstukke het letterlik by die duisende ingestroom nadat die FAK onlangs aangekondig het dat dié kultuurorganisasie Joan Abrahams oftewel tannie Mossie soos daar liefderik in die Rosestad na haar verwys word, se geliefde 1c-muntstukprojek gaan oorneem.
Van die duisende mossiemunte wat die FAK tot dusver ontvang het, is daar toe besluit om dié munte op houtsleutelhouers te monteer en aan Afrikaans- en geskiedenisonderwysers oor die land te oorhandig.
Volgens oorlewering het die destydse 1c-munt met twee mossies voorop sy oorsprong uit die Bethulie-konsentrasiekamp.
Dié verhaal het verskeie variasies, waarvan die bekendste sekerlik die een is waar die predikant uit Mattheus 10:29-31 voorgelees het: “Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.” Terwyl hy gelees het, het twee voëltjies op die klip naby hom kom sit.
Tannie Mossie het haar sowat 500 munte aan die FAK oorhandig “om haar goeie werk oor dekades heen voort te sit en weer hoop te bring aan ’n nuwe geslag helde”.

 

 

Haar noemnaam is juis te danke aan die projek wat sy in die 1970’s begin het, waar sy die destydse 1c-stukke met twee mossies daarop saam met ’n Bybelversie aan soldate gegee het om vir hulle moed te gee.
Die Meisieskool Oranje, waar sy vir jare lank ’n onderwyser was, en ook Grey-kollege, was by die valskerm-eenheid ingedeel en elke leerling moes vir die vak jeugweerbaarheid soldate ondersteun.
Die leerlinge het aanvanklik briefies aan die soldate geskryf, maar eindelik is die briefies danksy tannie Mossie met ’n Bybelversie en ’n 1c-stuk aan elke soldaat wat uit Bloemfontein na die Bosoorlog in die destydse Suidwes-Afrika vertrek het, aangevul. Elke soldaat het later dié 1c-stuk saam met sy naamplaatjie om sy nek gedra.
Waar tannie Mossie eens dié projek gelei het, vat sy nou saam met die FAK hande om haar hartsprojek lewendig te hou. Volgens Malan het hy al sowat 8000 muntstukke van regoor die land heen ontvang en beloftes van 15 000 gekry.
“Julle onderwysers is meer werd as baie mossies. Bou so voort op julle goeie werk. Ons as die gemeenskap van Parys waardeer julle planne ook in hierdie moeilike tyd.”

 

 

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button