News

Kry jou Covid-19-inenting by die Noordwes-Universiteit

Kry jou Covid-19-inenting by die Noordwes-Universiteit

 

Die NWU inentingsveldtog is steeds op dreef met die Johnson & Johnson inentings wat hierdie Saterdag en Sondag, 13 en 14 Augustus by die Dampad-eetsaal toegedien word.

Volgens prof. Awie Kotze, bestuurder van die inentingsveldtogte op beide die Potchefstroom en Mahikeng kampusse, sal die Johnson & Johnson-entstof van nou af by die NWU se uitreiksentrums toegedien word. “Ek wil ook almal wat die Pfizer-entstofdosisse gedurende die eerste naweke ontvang het, verseker dat daar genoeg dosisse van hierdie entstof vir hulle tweede inspuiting beskikbaar is. Dit sal vanaf die laaste naweek in Augustus toegedien word,” sê Kotze.

 

Die Universiteit berei hulle voor vir die inentings van die 18 tot 34-jarige ouderdomsgroep wat vanaf die eerste naweek in September by die NWU se uitreiksentrums sal plaasvind. “Hierdie groep verteenwoordig hoofsaaklik ons gewaardeerde studentebevolking en ons is bly dat ons hierdie noodsaaklike diens ook aan hulle kan verskaf,” sê prof. Kotze. Sover is daar op die Potchefstroom- en Mahikeng kampus al altesaam 9 845 inentings toegedien sedert die eerste inentingsveldtog die naweek van 16 Julie begin het. Volgens prof. Kotze verloop die inentingsveldtog op beide kampusse glad. “Ons glo dat die veldtog ‘n beduidende impak sal maak om die Covid-19-pandemie te hanteer. Ons is trots op al die NWU-personeel – van akademici tot die ondersteuningspersoneel – en ander belanghebbers wat by vrywilligerwerk betrokke is en mense aanmoedig om hulle te laat inent. Ek wil veral die bydraes beklemtoon van die personeel en studente van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe wat ‘n integrale deel van die veldtog vorm,” sê prof. Kotze.

 
 

Hy sê verder dit is wonderlik om die toewyding, passie, doeltreffendheid en vriendelikheid te ervaar van elke persoon wat by hierdie veldtog betrokke is. “Dit is so bemoedigend om te sien hoeveel mense kom om ingeënt te word en om die positiwiteit regdeur elke naweek te ervaar.” Hy sê dat die NWU verheug is dat hulle kan voortgaan om hierdie noodsaaklike diens te lewer om in die behoeftes van die mense van Suid-Afrika te voorsien. “Die goeie samewerking met Noordwes se provinsiale regering het ons in staat gestel om hierdie diens doeltreffend te lewer. ”Die NWU maak nie net ’n impak by sy kampus se uitreiksentrums nie, maar help ook met die inrigting van die Jade Square-massa-inentingsentrum in Klerksdorp deur rekenaars vir hierdie sentrum te skenk. Dit volg nadat die Matlosana-sakekamer en Noordwes se Departement van Gesondheid die NWU om hulp genader het. Wilhelm van Belkum, direkteur vir bedrywighede en infrastruktuur van die NWU se Inligtingstegnologie-departement (IT-departement), sê dat die IT-groepe van die NWU se kampus in Mahikeng en in Potchefstroom 42 Hewlett Packard- persoonlike rekenaars geïdentifiseer het wat vir gebruik by die inentingsentrum geskenk kan word. Personeel van die NWU se IT-departement het die NWU se verbintenis tot gemeenskapsbetrokkenheid getoon deur te help om die werkstasies vir die opening van  Klerksdorp se inentingsentrum op 5 Augustus aan die gang te kry.

 
 

           

Related Articles

Back to top button