News

Land Care span begin met uitroei van bankrotbos in Vaal Eden-gebied

Land Care span begin met uitroei van bankrotbos in Vaal Eden-gebied

 

 

Departement Landbou is tans besig met sy Land Care projek in die Vaal Eden-gebied vir die uitroei van onkruid en indringerplante. Daar word spesifiek gefokus op die uitroei van bankrotbos (ook genoem slangbos) per hand deur die gooi van Molopo korrels wat vir die onkruid geregistreer is. Die korrels word in die kern van die plant deur ‘n pyp gegooi, sodat dit met die eerste reën oplos, en dan deur die plantwortels opgeneem word om die plant te laat vrek. Bankrotbos is ‘n verklaarde onkruid en moet deur boere uitgeroei word.    

 

 

 

 

 

 

 

Dit hou ‘n groot bedreiging in vir weiding en kan die produksiepotensiaal van weiveld met tot 75% verlaag. Met oorbeweiding is die verskyning van bankrotbos meer opsigtelik, maar in werklikheid dra oorbeweiding net by tot die indringing omdat die grasbedekking verminder en bankrotbos wat nie benut word nie, dan die kans kry om ongehinderd te groei. Vandaar ook die naam bankrotbos omdat dit tot groot finansiële verliese vir boere kan lei – nie net weens weiding wat verlore is nie, maar ook omdat dit moeilik en duur is om uit te roei. Ou lande is veral vatbaar as gevolg van die gebrek aan kompetisie van grasspesies. Namate die plant by veranderde omstandighede aangepas het, het dit gebeur dat veld onder goeie bestuur ook met die plant ingeneem word. Kundiges in die veld het tot die gevolgtrekking gekom dat grond met lae ph en voedingstowwe, baie gunstig vir bankrotbos is.

 

Die digte besmettings op ou lande wat oor die jare uitgeput is, deur min aanvulling van voedingstowwe (kunsmis en kalk), bevestig die gevolgtrekking. Miljoene ligte saad word ver deur die wind gewaai en voor jy jou kan kry, het dié plant buite beheer versprei, ongeag of jou veld in ‘n goeie of swak toestand is. Bankrotbos kompeteer sterk vir plantvoedingstowwe en grondwater en het allelopatiese eienskappe wat giftige stowwe afskei om die ontwikkeling en ontkieming van plante in hul onmiddellike omgewing te inhibeer. So kan grasse heeltemal verdring word deur bankrotbos. Boonop bevat dit vlugtige olies wat hoogs vlambaar is en saam met hoë brandbare materiaal ‘n ernstige gevaar inhou by veldbrande veral nou in die wintermaande. Hy’s ‘n indringer soos min en tans een van die belangrikste probleemplante in Suid-Afrika. Waarom bankrotbos so ‘n geweldige ontploffing in veral die afgelope vyf jaar gehad het, ook in die Vredefort en Viljoenskroon-omgewings, bly ‘n raaisel.

 

 

Die span van 32 wat tans in die Vaal Eden-gebied werk, werk vanaf die N1 op die plase Vergenoeg, Klein Smaldeel en Ladiefontein. Die projek in dié gebied val onder Vaal Eden Land Care en sal tot einde November duur. ‘n Bedrag van R450 000 is vir die beheer van onkruid deur die departement begroot vir die huidige boekjaar, en sal daar as fondse dit toelaat, ook in ‘n westelike rigting langs die R59 na Parys beweeg word in die toekoms. Boere en grondeienaars wat vrae het of hulp benodig met indringerplante is welkom om ‘n WhatsApp boodskap of e-pos na die volgende nommers of adresse te stuur: Piet Theron: 083 460 9190 of alternatiewelik ‘n e-pos na p.theron49@telkomsa.net of Mike by 082 773 2651 of ‘n e-pos na mike@specon.co.za.    

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button