NewsNews

Oud-Potchefstromer Graan SA se nuwe hoof

Oud-Potchefstromer Graan SA se nuwe hoof

 

 

Potchefstromers is besonder trots op ‘n oud-inwoner, Pieter Taljaard, wat onlangs as die nuwe hoof uitvoerende beampte van Graan SA aangewys is. Hoewel Pieter in Bloemfontein studeer het en sy doktorsgraad in landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf het, weet min mense dat hy eintlik ‘n profeet uit ons eie geledere is.

 
 

Hy het in Potchefstroom grootgeword en as tjokkertjie saam met sy pa op die plaas Rietfontein, 30 km buite die dorp in Parys se rigting, deeltyds met bees en skaap begin boer. Dis hier waar hy sy passie vir boerdery en die natuur ontdek het. Hulle gesin het op die plaas gewoon en hy was later ‘n leerling aan Laerskool Bailliepark. Daarna het hy sy hoërskoolopleiding aan Ferdies voltooi.

 
 

Pieter koester goeie herinneringe van Potchefstroom en onthou nog hoe lekker hy en sy maats fiets gery het. “Ons het die dorp platgery met ons fietse – skool toe en sport toe. Ons het ook graag atletiek by die Trimpark gaan oefen. Dit was ‘n vriendelike dorp en ek onthou nog hoe lekker sportbyeenkomste tussen al die skole was. Ek was vakansies maar net op die plaas omdat ons daar gewoon het en het altyd verantwoordelikhede en takies gehad om op die plaas te doen. Later het my take al hoe groter geword wat my baie selfstandigheid geleer het,” vertel hy. Pieter is ‘n bekende gesig in die plaaslike landbousektor. Voor sy aanstelling by Graan SA was hy ‘n dosent in landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat en die bestuurder van kleingraan en nywerheidgewasse by Bayer Crop Science. Hy het die afgelope ses jaar in die saadbedryf gewerk en volgens die voorsitter van Graan SA, Derek Mathews, is hy ‘n kundige in verbruikers- en produksie-ekonomie, ekonometrie sowel as wiskundige optimalisering. Volgens Graan SA het Pieter ‘n deeglike werwing- en aanstellingsproses ondergaan en het hy vir sy nuwe pos verskeie top kandidate uitgestof. ‘n Mens kan uit Pieter se studies en ondervinding aflei dat hy beslis ‘n linkerbrein boer is wat analities en metodologies dink.

 
Tog is daar ook vir hom “magic” in boerdery en om dít raak te sien, moet mens erken dat jy ewe veel van die regterbrein se intuïsie en kreatiwiteit ook nodig het. Dit is juis die ‘magic’-element in boerdery wat hom in 2001 weer laat besluit het om deeltyds te begin boer. “Ek is baie lief vir die natuur en om buite te wees. Daar is niks wat lekkerder ruik as nat grond nie. Bees- en skaapmis ruik vir my soos wins. Ek is lief daarvoor om dinge reg te maak en te verbeter en dit is alles geleenthede wat boerdery vir jou gee. Vir my lê ‘magic’ ook in tegnologie. Dit is ongelooflik wat boere alles met tegnologie kan vermag. Die vinnige tempo waarmee tegnologie dinge verander, is fantasties en dit is vir my ‘n groot voorreg om dit te kan beleef,” gaan Pieter voort. Vir hom is Graan SA daar vir die boere om hul sake te behartig. “Ons tree namens die boer op om belangrike sake aan te spreek. Boere is so besig en gefokus met hul daaglikse boerdery dat dit vir hulle onmoontlik is om aan alle landbousake aandag te gee. Sedert die deregulering van die landboumarkte gaan dit vir ons hoofsaaklik oor die verskaffing van inligting. Dit is vir ons ook belangrik dat boere en ander rolspelers in die waardeketting se belange in ag geneem moet word wanneer die regering besluite oor beleide moet neem wat die landbou raak.” As hoof uitvoerende beampte van Graan SA beskou hy die verhoudings in die waardeketting en met die beleidsmakers as kernbelangrik vir die toekoms. “Daar is reeds baie goeie verhoudings maar die nuwe en jonger leiers se leierskap- en onderhandelingsvaardighede moet konstant uitgebou word.” Hoewel die onteiening-sonder-vergoeding-beleid, wat die ANC tans voorstaan, ‘n donker wolk is wat oor die landbousektor se toekoms hang, is Pieter heel kalm en pragmaties in sy benadering. “Ons moet dit beslis teenstaan en aanhou om te wys en te verduidelik dat dit op ‘n totale ramp vir die hele land sal uitloop. Alle boere moet slim werk hier en met ons koppe baklei.
 
Om grond te besit is nie rykdom nie, inteendeel, dit verg groot finansiële verantwoordelikheid. Jy kan slegs winste maak wanneer jy suksesvol produseer en baie keer is dit eers na ‘n paar jaar wat dit kan gebeur,” verduidelik Pieter. Volgens hom wys internasionale tendense dat die aantal boere konstant afneem en dat die oorblywende boere groter word. Hy sê ook dat die mark vir graanprodukte in Suid-Afrika steeds bly groei wat geleenthede bied om produksie uit te brei. “Nie almal is boere nie. Boerdery is vandag ‘n groot intensiewe besigheid wat kapitaal en goeie bestuur verg. Passie is egter iets wat moeilik is om te vervang, daarom glo ek daar sal altyd plek wees vir jong mense wat ‘n passie vir boerdery het. Die belangrikste is om te begin, te leer en ondervinding te kry. Daar is altyd werk op plase en die meeste boere is bereid om jong mense met passie ‘n kans te gee – al is dit net vakansiewerk in plant-, saai-, skeer- of pluktyd. Niks kom by eerlike passie, hardwerkendheid en ondervinding nie,” sê Graan SA se nuwe hoof. Vir Pieter is ‘n goeie boer iemand wat ‘n passie en liefde vir die natuur het. Daarmee saam is geduld, logiese denke en ‘n taamlike besigheidsrisiko aptyt ook belangrike eienskappe.
 
 
 
https://potchefstroomherald.co.za/90642/oud-potchefstromer-graan-sa-se-nuwe-hoof/
 
 

 

Related Articles

Back to top button