News

“Munisipale ondersoek na waterkrisis hopeloos té laat ”

“Munisipale ondersoek na waterkrisis hopeloos té laat ”

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy regspan opdrag gegee om stappe te doen teen die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit nadat dele van die dorp onder ernstige watertekorte gebuk gaan, en sommige dele selfs géén water het nie.
AfriForum sê hy het na vorige skrywes, weer ‘n dringende skrywe aan die munisipaliteit gerig. “In antwoord hierop het die munisipale bestuurder se administrateur geantwoord dat die munisipale bestuurder ‘n ondersoek gelas het en nou wag dat die verslag aan hom voorgelê word.”
Die skrywe is ook aan sowel die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake as die Departement van Water en Sanitasie gestuur.
AfriForum sê in ‘n verklaring Ngwathe faal jammerlik in die verskaffing van voldoende drinkwater aan die inwoners van Parys, Schonkenville en Tumahole. “Daar is inwoners wat al tussen 10 dae en twee weke lank sonder ‘n druppel water in hul krane sit. ‘n Ondersoek en verslag is té laat – die mense kort water,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.
Die gebrek aan kommunikasie van die munisipaliteit met sy inwoners, vererger die situasie. “Die meeste kommunikasie kom van raadslede, maar hulle sukkel ook om inligting te kry,” sê Pretorius.
“Inwoners wat aan beurtwater onderworpe is, sal kan beplan as hulle ‘n rooster het om te sien wanneer hulle water gaan hê of nie.”
AfriForum beklemtoon in sy verklaring dat water ‘n basiese reg is wat duidelik in die Grondwet beklemtoon word.
“As die munisipaliteit nie erken dat daar ‘n groot probleem is nie, is daar nog geen oplossing in sig nie. Die inwoners is keelvol en moedeloos, en só gaan die dorp inwoners en besoekers verloor,” is gesê in die organisasie se verklaring.
Die plaaslike AfriForum-tak het intussen ‘n noodwaterpunt by die NG Kerk Suid beskikbaar. Mense kan op weeksdae tussen 08:00 en 15:00 gaan water haal. Dit is egter uitsluitlik vir wasdoeleindes en nie vir drinkwater nie.

 

 

Related Articles

Back to top button