NewsNews

‘Ek is gereed’: student se laaste inskrywing in haar dagboek voor sy verongeluk

‘Ek is gereed’: student se laaste inskrywing in haar dagboek voor sy verongeluk

 

“Ek is gereed”, was Marelize Steyn (20) se laaste inskrywing in haar dagboek voordat sy verlede Saterdag (31 Julie) om 4:30 in ‘n grusame tromopbotsing op die Ventersdorppad gesterf het.

  Sy was in Ventersdorp se rigting op pad na haar ouerhuis toe ‘n silwerkleurige Volkswagen Polo, wat in die rigting van Potchefstroom gery het,  ‘n Toyota Yaris verbygesteek en Marelize se motor van voor getref het. Marelize en vier van die vyf insittendes in die Polo is op die toneel dood. Die ander passasier in die Polo is met ernstige beserings in ‘n hospitaal in Potchefstroom opgeneem.

 

“Ons is sprakeloos. Haar dood het nog nie heeltemaal ingesink nie”, sê Sunette Steyn, ma van Marelize, hartseer. Marelize was Saterdagoggend op pad na hulle plaas wat naby Askham in die Noord-Kaap, geleë is. Dit is ongeveer 850 km van Potchefstroom geleë. Sy moes vroeg in die pad val en het haar ma 04:00 in kennis gestel toe sy uit Potchefstroom vertrek het. “Ek het Marelize later probeer bel, maar kon haar nie in die hande kry nie. Die polisie het ons toe 11:00 met die slegte nuus geskakel”, sê Sunette.

Marelize saam met hulle skaaphond, Alfie. Foto: Verskaf

Sy vertel verder dat Marlize haar vriendin, Mari-Lou Zaayman, genooi het om by haar op die plaas te kuier en dat hulle aanvanklik planne gemaak het om saam van Potchefstroom af te ry. Die vriendin se pa het egter gesê sy moet eerder met die bus van Kempton Park af ry.  “Ons het Mari-Lou later die Saterdagmiddag in Upington gaan oplaai want sy was reeds op pad toe ons die slegte nuus gekry het”, sê Sunette.

 

“Ons enigste troos is dat Marelize ‘n baie goeie verhouding met die Here gehad het. Dis ongelooflik dat die woorde – ‘Ek is gereed’ – die laaste inskrywing in haar dagboek was. Sy was vol vertroue dat die Here altyd by haar is en dat sy nooit hoef bang te wees nie”, vertel Sunette. Haar ma vertel dat Marelize in haar eerste jaar aptekerswese studeer het en ‘n hele paar onderskeidings verwerf het, maar dat sy in haar tweede jaar van rigting verander het omdat sy geroepe was om ‘n onderwyseres te wees. “Sy sou ‘n wiskunde en fisika onderwyseres vir die seniorfase wees. Sy het vir ‘n ruk by die Kalahari Tutorsentrum skoolgehou wat sy baie geniet het. Daar was planne dat sy eersdaags sou begin het om vir die dogtertjies in die skool balletklasse aan te bied en vir hulle ‘n dansie vir die skoolkonsert sou leer. Marlize was ons ballerina”, vertel Sunette. Sy sê dat hulle gesin Marelize sal onthou vir haar sprankelende en spontane geaardheid. Sy was ‘n regte storieverteller. “Sy kon met soveel byvoeglike naamwoorde ‘n storie vertel. Ons het aan haar lippe gehang en mense het baie van haar Kalahari-aksent gehou. Sy het altyd as sy skrik, gesê “Begrawe my in ‘n ervarkgat!”, lag Sunette. “Ons het haar ‘hoendertjie’ genoem omdat sy soms simpel besluite geneem het. Sy was ‘n regte Kalahari-kind met haar voete in die sand. Sy was lief vir die natuur en het vroeër vanjaar in Februarie dadelik van Potchefstroom af na ons toe gery toe die Kurumanrivier vir die eerste keer sedert 1973 begin loop het.

 
Marelize op die Kurumanrivier toe dit weer vir die eerste keer sedert 1974 in vloed was.

“Ek staan verstom oor al die mooi boodskappe van haar vriende en vriendinne. Ons het nie gedink sy het so baie mense geken en so ‘n liefdevolle indruk op ander gemaak nie”, sê Sunette. Marelize word oorleef deur haar twee oumas en oupas, haar pa, Albert Steyn asook haar drie susters Lynette (21), Karlin (16) en Almerie (14). Volgens Sunette word sy Vrydag (6 Augustus) om 11:00 op hul plaas, naby ‘n erdvarkgat, begrawe.

Marelize (tweede van links) saam met haar sussies by die Kurumanrivier. Foto: Verskaf https://potchefstroomherald.co.za/90836/ek-is-gereed-student-se-laaste-inskrywing-in-haar-dagboek-voor-sy-verongeluk/

Related Articles

Back to top button