News

“Hy was ons ‘hero’”

“Hy was ons ‘hero’”

     

Op die rugbyveld was hy die rooi blits vleuel. Langs die verspringput en die atletiekveld ’n toegewyde afrigter. In sy werk ’n perfeksionis. Vir sy gesin – hul ‘hero’ wat nie ’n enkele sport of ander hoogtepunt in die lewens van sy kinders en kleinkinders gemis het nie. ’n Aanhouer wat nie geglo het aan opgee nie.

Só sal Johan Ströh onthou word. ’n Man wat se hande altyd besig was – tot aan die einde van sy 68 jaar toe ’n bloedklont sy dood op 27 Julie veroorsaak het. Hy is in sy vrou, Jeanette, se arms oorlede. Johan was ’n gebore Parysenaar wat ook hier sy skoolloopbaan voltooi en op die sportveld uitgeblink het. Ná matriek is hy weermag toe waar hy vir die Weermag se o.20A-span gespeel het. Rugby en atletiek was sy groot liefde – die sportsoorte wat hy ook op skool beoefen het. Ná sy weermagopleiding het hy by die destydse Arwa-fabriek begin werk tot 1976, waarna hy by die destydse administrasie rade begin werk het – eers in Tumahole en daarna ook in Sebokeng.

Vanaf 1992 is hy in Zamdela as waarnemende stadsklerk aangestel vir die dorpe Zamdela (Sasolburg) Refengkgotso en Metsimaholo waar hy gehelp het om hul administrasies op die been te bring. Johan het ook as woongebiedbestuurder opgetree en het onder meer beheer oor die bou van die HOP huise uigeoefen.

Sowat 14 000 HOP huise is destyds onder sy beheer gebou. Hy was betrokke by die verskuiwings van hostels en was geliefd by een en almal wat hy altyd op gelyke vlak behandel het – ryk of arm het dieselfde behandeling by hom gekry en omgee, nederigheid en liefde vir Sy Skepper was uitstaande kenmerke by hom. Hy was tot en met 2006 by die munisipaliteite betrokke, waarna hy weens gesondheidsredes die tuig moes neerlê.

Daarna het hy hom met nutswerk besig gehou. Oor die jare het hy verskeie atlete afgerig waarvan sommige onder sy afrigtershand SA Kampioene geword het. Hieronder was ook sy seun, Johan. Johan Jr het ook sy pa se jarelange laerskool verspringrekord verbeter.

Johan se plek was nooit leeg langs ’n sportveld nie. Hy’t geleef vir sy kinders en die atlete wat hy afgerig het. Hy sou die verspringput se sand met ’n kennersoog bekyk en was nie tevrede as dit nie eenhonderd persent reg was nie.

Johan het op die Ouervereniging van die laerskool gedien, was erelid van die Oudskolierebond en die Ondersteunersklub. Hy was altyd betrokke –  in die gemeenskap, by die skole, sy kerk.  

 

 

’n Bittereinder, staatmaker, ’n sonder nonsens mens. Sy vrou, Jeanette, was ’n “skoolkys” van hom, en het hulle mekaar 50 jaar lank geken, waarvan hulle 46 jaar getroud was. Hy sal met teer herinneringe onthou word deur sy vrou, kinders Johan en Jolene, en skoondogter, Belinda, vir wie hy ’n wonderlike pa was. Sy kleinkinders, Mikayla en Boeta, het hy op die hande gedra.

Die familie sê dankie aan elkeen wat hulle in hierdie hartseer tyd ondersteun het – of dit ’n oproep, boodskap, besoek, of gebed, of gebaar van omgee was waarmee uitgereik is na die gesin. Spesiale dank aan dr. Van Wyk en sy personeel, die gemeenskap van Parys en sy vriende, wat so ’n groot deel van sy lewe was tot die einde.  

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button