News

Ons en die voëls om ons

Ons en die voëls om ons

   

 

Ons is aan die einde van nog ‘n maand en steeds kan Feathers Voëlklub nie byeenkom nie. Dit is reeds byna agtien maande sedert ons laaste byeenkoms maar ons is steeds vol vertroue dat hierdie pandemie onder beheer sal kom en dat dinge sal verander. Intussen geniet ons steeds die voëls – al is dit ook sommer net hier om ons. Nadat hulle lank nie in vrugte wat ons uitgesit het belang gestel het nie, verdwyn die vrugte nou vinnig.

Ek het pas ‘n groot groen appel uitgesit en die Kuifkophoutkapper het reeds ‘n paar groot happe gevat. Binnekort sal die Rooikophoutkapper ook sy deel kom haal en dan natuurlik ook die Rooioogtiptolle, die Gariepglasogies, en partykeer selfs die Geelbeklyster, en natuurlik die Gevlekte Muisvoëls. Dit bly interessant om te sien hoe die seisoene ook die voëls affekteer. Van die klomp Rooikopvinkies wat gereeld kom eet het, het net ‘n paar oorgebly. Ander het ander weivelde gekry, maar die verskillende mossies en duiwe kom soek maar steeds ‘n bietjie kos. Party mense voer meer en in die omgewing het ek sowat 50 Rooiborsduifies op die dakke en op die grond gesien. Die koue het sy tol op die plante in ons tuine geëis en dit het ook die voëls geaffekteer.  

Foto’s: Verskaf

         

 

Die aalwyn- en vuurpylblomme het doodgeryp en dit het gemaak dat ons nie onlangs die Swart- en Witpenssuikerbekkies hier by ons gesien het nie. ‘n Gevriesde waterbak skep ook probleme. Ek het ‘n Glasogie gesien pik-pik aan die ys, en nadat ek water op die ys gegooi het, dink die duiwe sommer dadelik dit is badtyd. Hulle is gewis nie so bang vir die koue, en koue water soos ons nie. Ons kan mekaar nie by die voëlklub sien nie, maar ons kan steeds die voëls om ons en waar ons ookal ry dophou en geniet. Hou aan daarmee en binnekort kan ons dalk weer bymekaar kom en mekaar se foto’s geniet. Vir inligting oor Feathers Voëlklub kan Hansie Bekker (056) 811 4754 / 082 820 4306, en Peter Killian (083 625 8100) geskakel word. Ons sal ook probeer om jul navrae oor die voëls te beantwoord.    

 

Related Articles

Back to top button