NewsNews

Drie tragedies in een maand verpletter gesin

Drie tragedies in een maand verpletter gesin

Tienerseun sterf kort nadat sy oupa oorlede is en sy pa se rug in ‘n ongeuk gebreek is

SASOLBURG. – Om ‘n geliefde aan die dood af te staan is sekerlik een van die moeilikste gebeure in ‘n mens se lewe. As ‘n gesin twéé geliefdes binne een maand verloor en nog ‘n gesinslid baie ernstig in ‘n ongeluk beseer word, is dit ‘n tragedie waaruit ‘n mens moeilik opstaan.

Dit is die situasie waardeur die Holtzhausen-gesin van Sasolburg nou worstel nadat hulle op 20 Junie eers hul oupa, mnr. Ronald Mac Gregor, aan die dood moes afgee, waarna die pa van die huis, mnr. Rudolph Holtzhausen, op 7 Julie van sy rugwerwels in ‘n ongeluk gebreek het. Die donkerste laagtepunt was toe die Holtzhausens se tienerseun, James, op 16 Julie gesterf het.

Volgens mev. Natashja Hotzhausen is James (17) ‘n tyd gelede met pectus escavatum gediagnoseer – ‘n toestand wat ‘n induiking in sy borsbeen en drukking op sy hart en longe veroorsaak het. Hy het ook baie pyn wees skoliose in die rugstring en ‘n aantasting van sy knieë gehad.

“Op 12 Maart vanjaar het James sy eerste hartaanval gekry. Daar is toe bevind dat sy longe vergroot is en dat sy hart tussen die longe en borsbeen vasgedruk word. ‘n Maand later is vasgestel dat hy regterventrikulêre hartversaking het. Met elke aanval was hy in baie pyn en die seerste vir ons as ouers was dat ons niks kon doen nie, behalwe om liefde en bystand te gee. Ons het besef dit was net ‘n kwessie van tyd,” sê Natashja.

James, wat ‘n leerling van Fakkelskool in Sasolburg was, het die afgelope jare deurlopend prestasietoekennings ontvang, maar weens sy toenemende pyn het sy skoolwerk en gemoedstoestand baie agteruitgegaan.

Op Vadersdag, 20 Junie, moes James en sy gesin die hartseer nuus verwerk dat sy oupa, mnr. Ronald Mac Gregor, ‘n jarelange Vaaldriehoeker en bekende hengelaar, aan sy hart gesterf het.

“Ons harte was aan stukke en ons het nog nie eens kans gekry om die stukke op tel nie, toe is James se pa, Rudolph Holtzhausen, se rug op 7 Julie in ‘n ongeluk gebreek. Op 15 Julie het James weer ‘n baie erge aanval gehad. Hy het op Donderdag 16 Julie sy fisiese en emosionele stryd verloor en gesterf.

“Ons is ‘n gebroke mamma en pappa. Ons het so baie hartseer en pyn maar ons weet James en sy oupa stap nou saam met sy ooms in die Hemel – sonder pyn,” sê Natashja.

Fakkel School of Skills het James se dood met leedwese op hul Facebookblad aangekondig met dié boodskap: “Ons het ‘n medestudent, ‘n klasmaat, ‘n broer, ‘n kind en ‘n vriend verloor. Ons wil graag ons opregte meegevoel aan sy ouers, broer, susters, onderwysers en vriende in hierdie tyd van verlies betuig.”

Natashja bedank almal wat hulle in dié moeilike tyd bystaan. “Dankie vir elke boodskap; dankie aan elkeen saam met wie ek ‘n paar trane kon huil. Dankie vir julle wat net geweet het hoe ‘n mammahart voel… vir julle wat aandra, van brood tot ‘n tissue. Vir elke liewe drukkie. Ek het nooit geweet mense gee soveel om nie.”

James se begrafnisdiens is Woensdag, 28 Julie vanuit die AGS Sasolburg-Suid gehou.

* ‘n Brokkie goeie nuus is dat James se pa nie verlam gelaat is nadat van sy rugwerwels gebreek is nie. Hy sal weer kan loop, maar daar lê ‘n lang pad na herstel voor. Buiten die emosionele ontwrigting van die afgelope weke het die gesin tans baie groot finansiële uitdagings. Enigiemand wat ‘n bydrae wil maak om hulle te ondersteun, kan ‘n EFT-inbetaling doen aan RJG Holtzhausen, FNB Tjekrekening: 62813809194.

 

Wyle James Holtzhausen (17), wat op 16 Julie oorlede is.
James se oupa, mnr. Ronald Mac Gregor, wat op 20 Junie gesterf het.

 

 

https://vaalweekblad.com/102470/drie-tragedies-in-een-maand-verpletter-gesin/

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button