News

Gesin verloor alles na pa se besering tydens seevakansie

Gesin verloor alles na pa se besering tydens seevakansie

Na Danie se besering kon sy werkgewer hom nie langer in diens hou nie en die De Kock-gesin moes leer om met meet-en-pas op sy werkloosheidsuitbetaling te oorleef.

 
Dit neem ‘n groot man om jou trots en waardigheid te behou as jy in die bestek van twee jaar alles wat jy deur die jare opgebou het, verloor het en boonop permanent in pyn is. Dít is die posisie waarin mnr. Danie de Kock van Unitaspark in Vereeniging hom nou bevind nadat hy twee jaar gelede ‘n besering opgedoen het wat hom uiteindelik die helfte van sy voet, sy werk en inkomste gekos het. Danie, wat al 25 jaar in die Vaaldriehoek woon, het ‘n goeie werk by ‘n steenvervaardiger in die Vaaldriehoek gehad toe hy sy voet in 2019 tydens ‘n vakansie in die Kaap beseer het. “Ek en my familie het op die strand geloop toe iets dwarsdeur my rock and surf-skoene in my regtervoet ingesteek het. Weens my diabetes het ek nie gevoel in my voete nie en het dit nie dadelik agtergekom nie. My vrou het my voet later die dag behandel maar ek moes ook gaan vir ‘n velskraap. Ons is van een wondsuster na ‘n ander maar niemand wou dit behandel nie. Hulle het die wond net skoongemaak en verbind.
 
“Ons is later na verskeie dokters en ‘n diabetiese kliniek sowel as na spesialiste waar ons R800 per besoek moes betaal. Ek het uiteindelik in die Sasolburg-hospitaal beland, waar my toon langs die groottoon op ‘n onverklaarbare manier gebreek is. Ek het meer as ‘n week daar gelê en nie eers skoon lakens gekry nie. Dit was eers nadat my vrou foto’s vir die dokter gewys het van hoe my wond vooraf gelyk het en hoe dit in die hospitaal agteruitgegaan het, dat hulle geskrik en my probeer help het. Die wond het egter net erger geword. “Danksy ‘n vriend het ek van Total Wound Care in Vereeniging gehoor. Hulle het probeer om my voet te red maar na die agteruitgang in die hospitaal was dit te laat. My tone en die helfte van my voet moes geamputeer word. “Ons het oral hier probeer om ‘n afspraak te kry maar die hospitale kon almal eers na drie of vier maande vir my ‘n afspraak gee. Tyd was van die grootste belang en ek en my vrou Tershia, is terug Kaap toe waar ek dadelik by die Helderberg-hospitaal gehelp is. Total Wound Care behandel nog steeds my voet. Hulle is baie goed vir my en ek is seker as ek van die begin af van hul geweet het, sou ek nie my tone verloor het nie,” sê Danie.
 
Die amputasiewonde wil egter steeds nie genees nie, en omdat Danie sukkel om te loop, het ‘n diabetiese wond intussen ook onder sy linkervoet gevorm. Danie sukkel tans met hipergranulasie, ‘n toestand wat veroorsaak dat die liggaam oormatige weefsel in en om ‘n wond vorm en genesing teenwerk. Hy moet ook dringend toetse vir moontlike kwaadaardigheid ondergaan. Na sy besering kon sy werkgewer hom nie langer in diens hou nie en die De Kock-gesin moes leer om met meet-en-pas op sy werkloosheidsuitbetaling te oorleef. Die egpaar het intussen alles verloor wat hulle deur die jare bymekaargemaak het. Hoewel Danie se twee dogters tot onlangs gewerk het, het hul kontrakte pas geëindig en hulle is nou ook werkloos. Die bank dreig reeds om die huis waarin hulle tans bly, terug te neem.
 
Dit is op die oomblik nog net Danie se seun wat ‘n werk en vaste inkomste het. Danie se suster het intussen vir hom ‘n stuk grond in Senator Roodlaan, Unitaspark, beskikbaar gestel waarop hy en sy gesin groentetuine kan aanplant om ‘n bestaan te maak. Die terrein is egter oorgroei en moet eers deeglik skoongemaak en omhein word, maar die De Kocks het nie geld vir sulke materiaal of dienste nie. Hoewel Danie baie trots is en nie hulp wil vra nie, het Vaalweekblad aangebied om by boumateriaal-ondernemings of ander sakelui uit te vind of iemand bereid is om te help. Enigiemand wat die gesin wil ondersteun, kan Vaalweekblad by 083 246 0523, of vir Danie direk by 082 220 0829 kontak.
 
Alternatiewelik kan ‘n EFT-inbetaling gedoen word by Capitec Bank, Rekeninghouer: DJ de Kock, Spaarrekeningnommer: 1729064688.  

 
Danie se geamputeerde voetwonde word op die oomblik deur Total Wound Care versorg, maar dit sukkel om te genees.

https://vaalweekblad.com/102249/gesin-verloor-alles-na-pa-se-besering-tydens-seevakansie/

Related Articles

Back to top button