News

Hy was ’n hoeksteen in die gemeenskap – ’n mense-mens

Hy was 'n mense-mens

“Onthou die Here se hand in alles.

” Só het hy dikwels ’n gesprek afgesluit – ook wanneer hy vir raad gevra is. En dit is dié woorde wat sy gesin, sy werkers en die mense wat sy lewenspad saam met hom geloop het, sal onthou – ook toe daar Donderdagoggend 22 Julie na die Nelspruit Medi Clinic gehaas is vir ’n oulaas groet wat nie beskore was nie.

Kobus Dannhauser is Donderdag in die vroeë oggendure in die ouderdom van 60 jaar aan Covid-19 oorlede, net ’n maand nadat hy in Junie sy groot droom bewaarheid het om sy familie die Kalahari te gaan wys. ’n Man wat ’n vol lewe geleef het, na aan die natuur, maar bowenal na aan Sy Skepper.

Van boer het hy geweeet.

As jong man van 20, net klaar met sy diensplig, het hy sy pa, Johan, se boerdery op Goedgedacht oorgeneem. Dis hier waar hy ’n eenvoudige veeboerdery omgeskakel het in ’n suksesvolle saaiboerdery, wat aan hom in 1983 die toekenning van Junior Mielieboer van die jaar sou besorg, en in 2005 ook die Syngenta-toekenning as Graanprodusent van die Jaar. Die boerdery het oor jare en oor verskeie plase in die distrik uitgebrei, maar in 2005 na sy Graanprodusent-toekenning, het Kobus die saaiboerdery gestaak en die boerdery weer volledig in ’n veeboerdery omgeskakel.

In April vanjaar het hy en sy seun, Johan een van die mees suksesvolste veeveilings gehad met die duurste koei ooit wat deur die Considerata SA stoet verkoop is. Kobus was dan ook ’n medestigter van die Droughtmaster ras in Suid-Afrika.

Hy was ’n steunpilaar in die gemeenskap met sy betrokkenheid wat wyd gestrek het van die Parys Distriks Boere Unie tot by die skole van Parys en in die distrik. Hy was onder meer voorsitter van die Parys Distrik Boere Unie van 1994 af tot nou, en voorsitter van  Parys Veiligheid totdat hy ’n paar jaar gelede die tuig neergelê het.

Met die Free Market Foundation se Khaya Lam-projek het die JH Dannhauser Boerdery Vennootskap bygedra tot die borg van 52 titelaktes sodat hulle wat vroeër nie eiendom hul eie kon noem nie, ook daardie geleentheid sou hê. Hy het ’n baie goeie verhouding met sy werknemers gehad. Vir hulle was hy Madokie – die man wat met die geweer loop saam met sy honde. ’n Bynaam wat hy as jong plaaskind gekry het omdat hy gereeld saam met die werkers met sy .22 en14 windhonde geloop het om wilde hase en meerkatte te jag.

Hy was lief daarvoor om te toer – sy land, maar ook die wêreld te gaan verken. Veral saam met sy familie wat sy hele bestaan was.

’n Gentleman en iemand wat kon floreer op konflik, want vir hom was dit sy visie om in konflik, oplossings te soek.

Hy was ’n mense-mens. Iemand wat geglo het dat wat jy vandag moet doen, vandag klaargemaak moet word. Hy het elke boom by die naam geken. En so passievol as wat hy oor die natuur was, was hy oor sy gemeenskap.

Om plaaslik te help en te ondersteun. So het hy ook ’n groot aandeel gehad in die stigting van die Weiveld Landbou- en Hotelskool wat destyds deur die Weiveld Boerevereniging begin is, en aanvanklik as die JH Dannhauser skool bekendgestaan het.

Hy het ook self in Parys sy laerskoolloopbaan voltooi en later aan die Hoër Volkskool in Potchefstroom gematrikuleer.

Hy is in September 1983 met sy kleintyd-liefde, Gezina, getroud. Van die dag wat hy as 13-jarige seuntjie die blondekop van familievriende op hul bosveldpaas, Buffelshoek, in die Sabie Sand Wildtuin, gesien het, het hy sy hart op haar verloor. Hulle het van standerd 8 af uitgegaan.

Kobus en Gezina was ook op die Bosveldplaas toe hy daar op 8 Julie siek geword het. Hy is op 16 Julie in die hospitaal opgeneem waar hy sy stryd teen die virus op 22 Julie weens sekondêre infeksie van die longe verloor het.

Kobus word oorleef deur Gezina, Johan en Linda en hul seuns, Kobus, Nico en Johan, Devina en haar seuntjie Frederik, Carina en Hanno Taljaard en hul kinders Hendrik en Lieca, asook ’n suster Karin Haggard. Ons diepe medelye met die familie. Kobus se dood laat ’n groot leemte vir Parys en in die boeregemeenskap.

Die familie sê dankie aan elkeen wat hulle sedert Kobus se siekbed en met sy afsterwe ondersteun het met gebed, boodskappe en op soveel ander maniere. Hulle bedank ook die mediese span wat met soveel toewyding na Kobus omgesien het.    

 

 

   

Related Articles

Back to top button