News

Oppas vir skelmstreek, sê die poskantoor

Oppas vir skelmstreek, sê die poskantoor

Die poskantoor kry al meer navra oor eposboodskappe en teksboodskappe wat lede van die publliek ontvang, en wat daarop gemik is om die ontvanger te mislei sodat hulle geld in ‘n misdadiger se rekening inbetaal.

Die jongste SMS-boodskap sluit selfs die naam van die persoon in wat die boodskap ontvang.  Volgens die boodskap is die afleweringsadres onleesbaar, terwyl ander boodskappe beweer dat die pakkie net afgelewer kan word as geld oorbetaal word om die “doeane-aanslag” van die pakkie te betaal.

Die e-pos en teksboodskappe lyk almal effens verskillend, maar hulle het almal ‘n skakel en sou die ontvanger daarop klik, neem dit hom na ‘n bladsy wat betaling versoek – of selfs besonderhede van die ontvanger se bankrekening versoek.

Dis hoe jy ‘n boodskap of epos van ‘n misdadiger kan uitken:

  • Die poskantoor vra nooit betaling vir ‘n pakkie voor die kliënt dit ontvang nie.  Indien daar invoerbelasting op ‘n pakkie van ‘n ander land is, betaal die kliënt as hulle die pakkie by die poskantoor se toonbank ontvang.
  • Die poskantoor versoek nooit ‘n kliënt se bankrekeningnommer nie.
  • Die spoornommer op die boodskap werk nie as jy dit op die poskantoor se internetblad vir die spoor van pakkies invoer nie.

Die poskantoor stuur wel vir kliënte ‘n SMS of papierstrokie as daar vir hulle ‘n pakkie by die plaaslike poskantoor wag.  Dit is dan belangrik om die pakkie so gou moontlik af te haal – pakkies word na 30 dae aan die afsender teruggestuur.

Poskantoortakke het aparte toonbanke vir verskillende transaksies. Dit beteken dat niemand onnodig lank in die poskantoor wag nie.

Lede van die publiek wat enige e-pos of SMS van dié aard ontvang, moet dit dadelik uitvee.  As jy leidrade oor enige misdaad het wat met die poskantoor verband hou, skakel gerus die tolvry misdaadlyn by 0800 020 070.

 

Die Poskantoor waarsku dat mense hulle nie aan sulke boodskappe moet steur nie.

Related Articles

Back to top button