News

Redes waarom kinders boelie en hoe hulle gehelp kan word

Redes waarom kinders boelie en hoe hulle gehelp kan word

Hoewel die meeste mense gewoonlik simpatie met die slagoffer van ‘n boelie het en geneig is om ‘n boelie te straf, sê kenners dat dit belangrik is om vas te stel waarom kinders hulle maats emosioneel, verbaal en selfs fisies seermaak.

 

Tebello Mabusela, ‘n dosent in sielkunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU), het boeliegedrag ondersoek. Sy het verskillende faktore vasgestel wat moontlik tot dié gedrag aanleiding kan gee. Verder gee sy ook aandag aan die ondersteuning wat aan ‘n boelie verleen kan word.

Mabusela sê ‘n paar van die faktore wat aanleiding kan gee tot boeliegedrag is die wyse waarop ‘n kind grootword – moontlike behoeftes wat nie aandag geniet nie, sosio-ekonomiese kwessies en die blootstelling aan ‘n gewelddadige en aggressiewe omgewing waar hulle moet veg om te oorleef. Volgens haar kan boeliegedrag ook aangeleerde gedrag wees. Sy sê dat ‘n kind se omgewing ‘n belangrike rol in die ontwikkeling van hulle persoonlike karakter speel. “’n Kind is nie ‘n eiland nie. ‘n Kind se gedrag kan nie van sy omgewing geskei word nie. Hulle leer gedrag by diegene rondom hulle en boots dit na,” sê Mabusela.

Sy sê verder dat kinders op ‘n sekere ontwikkelingstadium begin om hulle eie denke, emosies en gedrag te ontwikkel. Hulle onderskei hulle dan van mense om hulle. Tog is daar kinders vir wie dit moeilik is om hierdie onderskeid te maak en dan gaan hulle tot en met volwassenheid voort om die gedrag na te boots wat hulle uit hulle omgewing aangeleer het.

Sy sê verder dat boeliegedrag ook met geestesgesondheidsprobleme soos angs, depressie en persoonlikheidsversteurings verband hou. “Daar moet aan sekere sielkundige behoeftes van ’n kind voldoen word sodat hulle later as ‘n volwassene goed kan funksioneer. Wanneer daardie behoeftes nie bevredig word nie en verwerping, aggressie en verwaarlosing ervaar word, ontwikkel ‘n kind angs en depressie.  Dit kan dan in aggressie en woede teenoor hulself en ander manifesteer,” sê Mabusela.

Hoewel daar verskillende negatiewe en positiewe versterkingstrategieë ten opsigte van boeliegedrag is, is erge straf gewoonlik die algemeenste metode wat gebruik word. Dit maak egter net die gedrag erger.

Wanneer kinders aggressie teenoor hulself het, kan hulle hulself beseer en selfs selfdood pleeg. Sy beklemtoon dat die ondersteuning van gesondheidsorgkenners soos sielkundiges, maatskaplike werkers en psigiaters boelies kan help om trauma uit hulle kindertyd te verwerk wat as woede en aggressie na vore kom. Hierdie gedrag kan deur psigo-opvoeding en ander metodes verander word, soos om selfbewussyns-, gesonde hanterings-, positiewe aanpassings- en aanpasbaarheidsvaardighede aan te leer.

Mabusela voeg by dat boelie-eienskappe aangespreek moet word anders kan dit tot in volwassenheid voortduur. “Hierdie volwassenes sal sukkel om hulle emosies te beheer,  sal nie insig hê in dié dinge wat hulle gedrag veroorsaak nie en sal op alle gebiede van hulle lewens gewelddadig en aggressief teenoor hulself en ander wees,” sê sy.

 

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button