NewsNews

Student sterf drie weke na ouma

Student sterf drie weke na ouma

 

Kobus Reinecke (20), ‘n derdejaar NWU plantkunde en biochemiestudent, wat verlede Woensdag (7 Julie) verongeluk het, se ouma is presies drie weke voor hom aan Covid-19 dood.

  Volgens die familie was Kobus se pa, Hannes Reinecke, verlede week nog in Malawi besig om ‘n vlug te reël sodat hy sy ma in Suid-Afrika kan begrawe toe hy die slegte nuus van sy seun ontvang het. Hannes was self besig om van Covid-19 te herstel.

 

Kobus se tragiese ongeluk het familie en vriende geskok. Sy broer, Ludwig Reinecke, vertel dat Kobus vroegmiddag nog vir hom gesê het hy gaan vir ‘n vriend kuier. ER24 het later bevestig dat Kobus in ‘n ongeluk op die N12-hoofweg ongeveer 12 km buite Potchefstroom naby die Lekwena-ingang betrokke was. Volgens Ludwig het Kobus met ‘n Nissan-200 bakkie onder ‘n houttrok ingery. Nadat Ludwig met die trokbestuurder gepraat het, vermoed die familie die bakkie se band het gebars.

 
 

Die Herald het Vrydag met Heila Reinecke, Kobus se ma, en Ludwig gepraat waar hulle nog op Hannes gewag het. “Toe die polisie my bel om te sê my seun was in ‘n ongeluk en ek moet inkom kantore toe, het ek gedink die ongeluk het in die dorp plaasgevind. Ek het gedink ek moet hom by die polisiestasie gaan haal. Ek was benoud toe ek Kobus nie dadelik sien nie. Toe hulle vir my sê ek moet sit, het ek geweet hier kom slegte nuus”, vertel Heila bedroef. Beide Heila en Ludwig vind vertroosting in die feit dat Kobus op sy bestemde tyd gesterf het. “Ons wou hom so graag nog by ons gehad het, maar die Here het hom kom haal”, sê Ludwig en voeg by dat hy, sy broer verskriklik gaan mis. “Ons het alles saamgedoen – saam gekuier, gebraai, kerk toe gegaan en vakansie gehou”, sê hy. Ludwig vertel dat Kobus inkennig was, maar dat hy baie vriende gehad het. “My broer was baie intelligent en was van plan om volgende jaar sy honneursgraad in plantkunde te voltooi. Hy was baie lief vir oefen en het vir Heimat dorpskoshuis rugby gespeel.” Ludwig en sy ma het vertel hoe baie Kobus van plante gehou het. Hy het ‘n klomp eksotiese plante versorg en ‘n groentetuin by die huis aangelê. “Hy was tuis in die natuur en was baie avontuurlustig”, sê Ludwig.

Kobus was avontuurlustig en was op sy gelukkigste in die natuur. Foto: Verskaf

Related Articles

Back to top button