NewsNews

Veertien jaar se herinneringe in vlammehel vernietig

Gesin verloor alles in huisbrand

Hulle sou Francois se 8ste verjaardag vier. Twee huisgesinne wat as huisvriende Vrydagaand saamgekuier het.

Klein Francois opgewonde oor sy nuwe vistenk en verjaardaggeskenke.

Maar min het André en Riana van Deventer geweet dat in die nagmerrie wat in die donker nagure sou afspeel by hul huis op die h/v Boom- en Noorderstraat in Parys, 14 jaar se herinneringe in net twee ure in ‘n verwoestende see van vlamme weggevee sou word.

André en Riana het saam met Louw en Liezel Hager buite op die stoep by die braai-area gekuier. Francois en die Hagers se 13-jarige tweeling was binne in die dubbelverdieping plankvloer huis. Skielik het die kinders geluide gehoor en was hul eerste gedagte dat dit weer inbrekers was. Daar is net ‘n paar weke tevore by hulle ingebreek. En toe skiellik – die hulpkrete van die kinders. Die huis brand!

 

Foto’s: Met erkenning aan Dorette Nel, We Care. 

 

We Care, die SAPD en Parys Sekuriteit was binne oomblikke nadat die noodoproepe deurgekom het op die toneel, maar dit was tevergeefs. Die huis het in ‘n oogwink afgebrand.

Bykans niks kon  gered word nie. Niemand van die twee gesinne is beseer nie, en kon ook die Van Deventers se Schnauzer hondjie, Ruben, na veiligheid gebring word. Sedert die brand wat al net voor 21:45 Vrydagaand 9 Julie begin het, was mense se harte eenvoudig net oop om te help.

Die gesin het die aand by die Hagers kon oorbly, maar is daar sedertdien ‘n gemeubileerde woonstel tot einde Julie vir die gesin beskikbaar gestel, asook ‘n gastehuiseienaar wat help met verblyf vir Augustus terwyl nog iemand aangebied het om ook September se verblyf te betaal.

Mense het op soveel maniere alreeds hulp aangebied en is die grootste onmiddellike behoefte vir die gesin nou klere en kos. Skenkings kan by Breëstraat 36 afgegee word vanwaar dit dan na die gesin geneem sal word.

Daar is ‘n WhatsApp hulpgroep (Van Deventer hulpgroep) vir die gesin gestig en kan jy aansluit by die groep by https://chat.whatsapp.com/IXDqJipbUENGn13w3CG3zk as jy graag ook sou wou bydra.

Dankie aan elkeen wie se harte oop is vir hierdie gesin se nood. Elke beker koffie, elke bemoedigende boodskap, elke gebaar van omgee word opreg waardeer.

Besondere dank aan elkeen wat Vrydagnag op die toneel was om te help en te ondersteun. Vrywilligers wat nie geskroom het om in die nagure te help nie. Parys het waarlik ‘n omgee-gemeenskap  

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button