News

Van Pfizer tot ‘high tea’ op 99

Van Pfizer tot ‘high tea’ op 99

Ouma Bettie Theron van Parys kan jou vertel van die Groot Griep van die jare 1917/18, en van Covid-19 se grendelmure. Met net 1 jaar weg van ’n 100 jaar, het sy so knap voor haar 99ste verjaardag selfs haar tweede dosis van die Pfizer-entstof gekry. Waar jy haar raakloop in die Najaarsrus-eetsaal kan jy Ouma Bettie Theron deur ’n ring trek. Uitgevat vir ’n ‘high tea’ soos dit ’n dame van haar jare betaam om haar spesiale dag te vier. Die personeel se bederf om seker te maak ouma Bettie se 99ste verjaardag sal een wees om te onthou.

Al is haar verjaardag eintlik eers vandag, Sondag 11 Julie, is daar Vrydag al seker gemaak dat ouma Bettie somer ’n naweek van bederf sou hê – van pienk en wit ballonne tot ’n tafel vol keurige gebak.. Ouma Bettie is gebore in 1922, vier jaar na die Groot Griep, en onthou nog goed hoe haar ma vertel het van hoe baie siek geword het van die griep in die koue wintersmaande van 1917/18. Haar ouers was toe maar pas getroud. Omdat daar nie soveel gevorderde mediese tegnologie was, en soveel hospitale en klinieke soos nou nie, is meeste mense tuis versorg.

Daar was talle gesinne wat siek by die huis was, soos nou. Anders as vandag met sosiale media en soveel inligtingsbronne, was daar nie kommunikasie nie. Mense het nie geweet waarvandaan die siekte gekom het, of hoe dit versprei nie. Haar ouers self het nie siek geword nie. Vir ouma Bettie is dit vanjaar die tweede jaar wat die grendelslotte van inperking nog styf toegedruk is op haar verjaardag te midde van die Covid-19 pandemie.

Maar vir haar is daar ook ’n stukkie eie geskiedenis in hierdie tye. In haar bykans 100-jarige leeftyd is sy een van talle Suid-Afrikaners wat reeds hul Covid-19 inenting ontvang het. Sy onthou ook nog soos gister hoe Najaarsrus destyds gebou is, wat al vir jare haar tuiste is. Ouma Bettie is in Parys gebore en het hier skoolgegaan. Haar ouers het destyds op die perseel langs Pula Build-it gebly.

Die grond tussen Dolf-, Father Balink-, Schilbach- en Promenade strate het twee burgererwe ingesluit, en onthou sy hoe die ingang van die tehuis soos inwoners dit vandag ken, destyds ‘n tweespoor paadjie was tussen die wonings van die eertydse landdros van Parys, mnr. Van Zyl, en skoolhoof van die Hoërskool, mnr. Van Huyssteen. Laasgenoemde se huis was waar die hoofgebou van Najaarsrus vandag is. Tannie Bettie vertel dat dit aanvanklik regeringsgrond was wat deur die destydse munisipaliteit onteien is weens agterstallige gelde, en toe in 1965 geskenk is vir die ontwikkeling van ‘n aftreeoord in Parys.

Daar is voorgestel dat die NG Kerke in Parys beheer oor die tehuis moes neem en ‘n opname moes maak van bejaardes wat belang sou stel om in die tehuis geakkommodeer te word. Haar ouers, Stoffel en Bettie le Roux, se name was ook op die lys. Met haar ma se afsterwe in 1968 was die tehuis nog nie klaar gebou nie. Me. M. Vorster, eggenote van die destydse eerste minister, John Vorster, het die tehuis net ‘n jaar later op 16 Augustus 1969 amptelik geopen.

Die amptelike ingebruikneming van die groter Najaarsrus is gedoen in Mei 1985.

Tannie Bettie en haar man, Gawie, het in 1987 in Parys kom aftree. In 2007 trek hulle in by Najaarsrus, waar hy in 2009 oorlede is. En al het ouma Bettie oor jare baie sien verander, is masker-dra beslis ook ’n nuutjie vir haar.  

 

Related Articles

Back to top button